Superrugby: Sit maar jou geldjies op die Crusaders

Die Crusaders is soos ʼn bulhond ‒ as hy eers gebyt het, laat hy nie los nie.

En op die koop toe, behoede ook die span wat in die uitspeelrondes van die Superrugby-reeks teen die Crusaders in Christchurch moet speel.

Dit het die tuisspan Vrydag weer op sy tuisveld bewys toe hy die Highlanders met 45-22 geklop het nadat hy rustyd met 25-17 voor was.

Boonop het Crusaders soms net geluier en as daar beter afronding was, kon hulle nog verder gewen het

Dit was die Crusaders se 11de opeenvolgende sege en hoe langer die seisoen duur, hoe beter raak hulle.

Die Crusaders het ook seker gemaak dat hulle boaan die puntelys eindig (58 punte) en nie meer ingehaal kan word nie.

Hulle het nou ook die meeste punte (488) aangeteken, net twee drieë minder (69) as die Lions (71) gedruk, maar waar die Lions 53 drieë afgestaan het, het die Crusaders net 36 (die minste in die reeks) deurgelaat.

Dit vertel mos die hele verhaal.

Tensy iets onvoorsiens gebeur, sal hulle tuis in die kwarteind- en halfeindronde en ook in ʼn moontlike eindstryd speel.

Die kragmeting met die Highlanders was vol hoogtepunte, want die veteraanstut Wyatt Crockett het in sy 200ste Superwedstryd gespeel nadat hy sy buiging in 2006 gemaak het.

Dan het die All Blacks-kaptein, Kieran Read, wat vanweë ʼn ernstige rugbesering maandelank langs die kantlyn was, 49 minute lank gespeel om die roes af te skud.

Dink net daaraan, die Bokke sonder Duane Vermeulen in die Rugbykampioenskap (omdat hy in Japan speel) teen die All Blacks op volle sterkte!

Die Crusaders het reeds in die eerste helfte drie drieë gedruk. Waar Engeland in die onlangse reeks teen die Springbokke hul vroeë voorsprong in die eerste twee toetse laat glip het, het die Crusaders die toutjies bly trek.

Ja, die Highlanders was in ʼn stadium net met ʼn punt agter, maar toe het die Crusaders na ʼn hoër rat oorgeskakel en was dit klaarpraat met die Highlanders.

Puntemakers ‒

Crusaders (25) 45: Drieë: George Bridge 2, David Havili, Scott Barrett, Richie Mo’unga. Doelskoppe: Mo’unga (4). Strafdoele: Mo’unga (4).
Highlanders (17) 22: Drieë: Tyrel Lomax, Ben Smith, Waisake Naholo. Doelskoppe: Lima Sopoaga (2). Strafdoele Sopoaga (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans C ·

Die span wemel van die All Blacks.Dit wys maar weer dat ‘n stabiele geld eenheid die aantrekkingskrag van die Euro en Pond verminder.Tans 0.51 Britse pond vir 1 Nz-dolar.
0.056 Britse pond vir R1.

Gerhard ·

NZ rugby betaal nie so goed soos Europese spanne nie, eerder is dit dat daar geen politieke inmenging is nie en dat hulle met hart en trots vir hul land speel.

Frans C ·

Maksium vergoeding vir NZ speler 195000 NZ dollar minimum 75000 dollar.Ongeveer
R1.8 miljoen en en R690 000.Kan ook spelers op ‘n ‘retainer’ van 50000 nz dollar werf.
Een Rand koop tans 0.11 NZ dollar.Jy gaan dus ongeveer R9.21 vir 1 NZ dollar betaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.