Superrugby: Só lyk sake

Toe die Superrugbyreeks in 1996 die eerste keer die lig gesien het, was dit een van die organiseerders se mikpunte om die speelveld tussen die spanne van Nieu-Seeland, Suid-Afrika en Australië (en later ook Argentinië en Japan) gelyk te maak.

Te oordeel na Saterdagoggend se drie wedstryde het hulle daarin geslaag, want die Brumbies het in Canberra die Blues net met 26-21 geklop, die Highlanders en Chiefs het in Dunedin met 31-elk gelykop gespeel en die Hurricanes het die Rebels met 29-19 in Wellington geklop.

Maar ai, hulle het sekerlik nie die gehalte van die spel wat die Aussies se spanne (en kom ons wees eerlik ook soms die SA spanne) uitstal, voorop gestel nie.

Waar die Hurricanes (in die eerste helfte teen die Rebels) en die Highlanders en Chiefs staatgemaak het op flair, vaart, durf en passie om drieë te druk, het die Brumbies drie drieë teen die Blues met rolmaalbewegings deur die haker Folau Fainga’a gedruk om deur te skraap. Die ander drie is deur die stut James Slipper gedruk … nie te avontuurlustig nie!

Om ʼn drie te druk, bly ʼn kuns, maar om rolmaal ná rolmaal te aanskou, is maar bra vervelig.

Nietemin, die Brumbies het die agterdeur oopgehou om tot die uitspeelrondes deur te dring, want hulle is nou saam met die Rebels (albei het 24 punte) saam voor in die Australiese afdeling, gevolg deur die Reds (22).

Maar hulle is eendimensioneel en ʼn mens wonder of hulle verder as die kwarteindronde sal vorder, veral as hulle weg van die huis af moet speel.

Boonop sal die Blues nie die skeidsregter, Damion Murphy, op hul Kerskaartlysie voeg nie, want hy kon die Brumbies baie meer gestraf het.

Maar, kyk tog na die telling, dis wat saak maak.

Puntemakers:

Brumbies 26 (12): Drieë: Folau Fainga’a (3), James Slipper. Doelskoppe: Christian Lealifano (3).

Blues 21 (14): Drieë: Thomas Faiane, Caleb Clarke. Doelskop: Otere Black. Strafdoele: Black, Plummer (2).

 

* In Dunedin het die All Blacks-afrigter, Steve Hansen, soos ʼn blits uit sy sitplek opgespring en hom na die kantlyn langs die veld gehaas om sy ster-heelagter van die Highlanders, Ben Smith, moed in te praat.

Hansen het ook probeer vasstel hoe ernstig die enkelbesering is wat Smith diep in die tweede helfte opgedoen het toe hy deur die Chiefs se ysterman Luke Jacobson gesmoorvat is.

Smith het lank bly lê en daar is eers gevrees dat hy dalk sy kakebeen kon beseer het, want sy mond het gebloei. Toe hy ná behandeling wou opstaan, het sy enkel ingegee en is hy met die hulp van twee beamptes sukkel-sukkel kantlyn toe.

Hansen is reeds sonder die veelsydige Damian McKenzie wat ʼn langtermyn-besering opgedoen het en as Smith ook ernstig beseer is, bly byna net Jordie Barrett oor om die laaste vesting te beman. Glad nie ʼn swak keuse nie, maar die spens is besig om leeg te loop.

Hansen sou vroeër in sy noppies gewees het met die gehalte van spel, vaardighede wat uitgestal is en passie en durf wat veral die Chiefs, wat erg gebuk onder beserings gegaan het, getoon het.

Die wedstryd het met 31-elk gelykop geëindig nadat die Highlanders in die 52ste minuut met 28-12 voor was, maar nie die sakkie kon toeknoop nie.

Die Chiefs se Angus Ta’avao het die gelykmakende drie kort voor die einde gedruk en die Highlanders-ondersteuners die ritteltits gegee toe hulle byna weer gedruk het om ʼn onwaarskynlike oorwinning te behaal.

Puntemakers:

Highlanders 31 (14): Drieë: Josh Ioane, Ben Smith, Matt Faddes, James Lentjes. Doelskoppe: Ioane (4): Strafdoel: Ioane.

Chiefs 31 (12): Drieë: Brad Weber, Luke Jacobson, Angus Ta’avao (2), Tyler Ardron. Doelskoppe: Marty McKenzie (3).

 

* In Wellington het die Hurricanes soos ʼn orkaan oor die Rebels in die eerste 25 minute geswiep en ʼn voorsprong van 26-0 opgebou, maar toe gaan lê en op die ou einde met 29-19 deurgeskraap.

As die wisselvallige Rebels-losskakel, Quade Cooper, ook nie met ʼn maklike strafskop kort voor die einde misluk het nie, kon die Rebels nog nader gekruip het.

Soos almal nou al weet, het die Hurricanes, veral wanneer die twee Barrett-broers, Beauden en Jordie, die toutjies op hul tuisveld trek, baie slaankrag. Maar die ’Canes het ook ʼn hele paar swak plekke veral wanneer die storm uitgewoed het.

Die Sharks het dit Vrydag teen die Crusaders bewys: wanneer jy in die gesig van enige Nieu-Seelandse span boer, begaan hy al hoe meer foute, sy dissipline begin weifel en sy selfvertroue is nes verlede maand se salaristjekkie daarmee heen.

Die Hurricanes was ook in die beskuldigdebank oor ʼn gebrek aan dissipline en die skeidsregter, Nick Berry, het hulle herhaaldelik gestraf. Dit het tot groot frustrasie gelei, maar dalk was dit die druk wat die Rebels toegepas het.

Maar wanneer jy die Hurricanes kans gee om uit daardie web te ontsnap, gaan hulle jou vermorsel.

Soos sake nou staan, sal die Crusaders eerste in die Nieu-Seelandse afdeling (en ook algeheel) se puntelys eindig. Die Hurricanes sal waarskynlik vierde eindig en dus ook tuisveldvoordeel in die kwarteindronde hê.

Puntemakers:

Hurricanes 29 (26): Drieë: Ngani Laumape, Beauden Barrett, Wes Goosen, Vaea Fifita. Doelskoppe: Beauden Barrett (3). Strafdoel: Jordie Barrett.

Rebels 19 (0): Drieë: Matt Philip, Billy Meakes, Reece Hodge. Doelskoppe: Quade Cooper (2).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jr ·

Al die jare gesê as jy die All Blacks wil wen draai hulle om en laat hulle agtertoe speel dws DRUK. As jy toelaat hulle om te hardloop is hulle op hulle beste. En dus hoe jy ń NZ of Aussie span wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.