Superrugby: só sak die gordyn

Wanneer die eindfluitjie Vrydagaand in die Nelson Mandelabaai-stadion in Port Elizabeth blaas in die Superrugby-wedstryd tussen die Southern Kings en die Cheetahs, sak die gordyn vir ʼn paar afrigters en spelers en word een van die mees omstrede hoofstukke in Suid-Afrikaanse rugby afgesluit.

Die Kings was slegs ʼn paar maande gelede ná die Cheekey Watson-debakel platgestaan en byna uitgetel, maar die spelers het wonderbaarlik opgestaan en in die reeks voortgeveg. Hulle het sodoende tong na die Suid-Afrikaanse rugbybase uitgesteek wat die Supermat onder hulle gelig het.

Ja, dalk is daar lig in die tonnel om voortaan in die Noordelike Halfrond te speel, maar dit gaan die hele landskap van Suid-Afrikaanse rugby verander en verskeie spelers het reeds ander weivelde gaan soek.

Die boustene wat gelê, is nou weer soek en daar sal van vooraf beplan moet word.

In die ander hoek is daar die Cheetahs, die span wat jarelank die toonbeeld van avontuurlike rugby was, die voerband vir die Sharks, Bulls, Lions en nou ook die Stormers.

Ja, hulle het dalk nie die mas opgekom in die Superreeks nie; en ja die toeskouers het dalk nie in hul duisendtalle opgedaag nie, maar het hulle jare lank werklik die ondersteuning gekry wat nodig was om hul spelers te behou?

Dis nogal ironies dat ʼn kragmeting teen van die agterosse meer belangstelling lok as twee smullekker-derbies tussen die Bulls en Stormers op Loftus en Sharks teen Lions op Kingspark.

Die rede? Daar is byna niks op die spel op Loftus nie. Die Stormers is reeds deur tot ʼn tuis kwarteind en die Bulls speel net vir passie en trots. Maar maak dit nog werklik saak as jy drie of vier keer in ʼn jaar (Superreeks, Curriebeker en SuperSportreeks) teen dieselfde spelers speel?

Dis ook Nollis Marais se laaste kans op Supervlak met John Mitchell wat binnekort as afrigter oorneem.  Lê daar opwindende tye op Loftus voor?

In Durban kan daar baie op die spel wees, of dit kan ʼn seepbel wees wat reeds gebars het.

As die Crusaders Saterdagoggend met die Hurricanes in Wellington afreken, eindig hulle eerste op die puntelys. Dit sal beteken dat die wedstryd in Durban ʼn blote kleedrepetisie is vir aanstaande Saterdag se kwarteindstryd tussen die Lions en Sharks op Ellispark.

Verloor die Crusaders, kry die Kingspark-kragmeting nuwe betekenis, want as die Lions wen, kan hulle al drie uitspeelwedstryde op Ellispark aanbied. Dit sal ʼn gepaste afskeidgeskenk wees vir die afrigter, Johan Ackermann. Dis sal ook die regte beloning wees vir die Lions vir die opwindende rugby wat speel en oorgespoel het na die Springbokke waarna ons so lank hunker.

Vir diegene wat aan sooibrand ly, kan hulle dit vererger om Saterdag vroegoggend na die Sunwolves se kragmeting met die Blues te kyk en dit op te volg met die Force wat die Waratahs pak.

Tussendeur speel die Chiefs teen die Brumbies, wat 11 veranderinge aan hul span gemaak het wat verlede week gespeel het. Neem hulle die reeks ernstig op of speel die afrigter, Stephen Larkham, wat ook aan die einde die reeks groet, kopspeletjies?

Saterdag se bepalings –

05:05: Sunwolves vs Blues (Tokio)
07:15: Chiefs vs Brumbies (Hamilton)
09:35: Hurricanes vs Crusaders (Wellington)
11:45: Force vs Waratahs (Perth)
15:15: Bulls vs Stormers (Pretoria)
17:15: Sharks vs Lions (Durban)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.