Superrugby so te sê mondig

sanzaar6 Julie 1996: Dit het byna ongemerk verby gegaan, Sondag se 20ste herdenking van die eerste rugbytoets in die Drienasies-reeks tussen Nieu-Seeland en Australië.

Die All Blacks het dié dag met 43-6 gewen en voortgegaan om die Drienasiesreeks en later die Rugbykampioenskap te oorheers.

Net soos die Springbokke en Wallabies het die All Blacks reeds 93 wedstryde in die onderskeie reekse gespeel waarvan hulle 68 gewen het, net 24 verloor en een keer gelykop gespeel het. Vergelyk dit met die Bokke (93 gespeel, 38 gewen, 53 verloor en twee gelykopuitslae) en die Wallabies se vertoningslys (93 gespeel, 39 gewen, 52 verloor en twee gelykopuitslae). Die Argentynse Poemas is eers in 2012 toegelaat en kon nog net twee van 21 toetse wen: teen die Bokke (37-25) verlede jaar in Durban en in 2014 toe hulle die Wallabies 21-17 in Mendoza geklop het.

Die reeks het sy beslag op 23 Junie 1995 gekry, die dag voor die Wêreldbeker-eindstryd tussen die Bokke en All Blacks. Die groot groep joernaliste wat hulle na Ellispark gehaas het, was voorbereid op ‘n mediakonferensie waar die Bokke se afrigter (Kitch Christie) en die kaptein (Francois Pienaar) teen die All Blacks se breier (Laurie Mains) en die kaptein (Sean Fitzpatrick) opgeweeg sou word.

Die saal was volgepak, die televisieligte was reeds aangeskakel en die bandopnemers het gerol. Die rugbybase was almal daar – Bernard Lapasset, die president van die Internasionale Rugbyraad, die SA Rugbyvoetbalunie se dr Louis Luyt,  die rugbybase van Nieu-Seeland en Australië.

Maar toe kom die groot skokaankondiging. In plaas van Pienaar en Fitzparick kry ons Rupert Murdoch teen Kerry Packer, waar Murdoch geseëvier het.

Ja, die juk van skyn-amateursisme is afgeskud, Sanzar, `n nuwe beheerliggaam wat rugby in die Suidelike Halfrond sal beheer, sal pa staan vir `n Super10- en `n Drienasiesreeks.

Nee, dit kan nie wees nie, het hordes Britse en Franse joernaliste gebrom, want hulle was nie deel van die heel belangrikste aankondiging in rugby nie.

En só word Superrugby aanstaande jaar mondig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.