Superrugby: Sopoaga kelder die Lions ook

Lima Sapiago – vernietigend. (Foto: Twitter)

Hulle sê weerlig slaan nie twee keer op dieselfde plek nie.

Ja, dalk het Lima Sopoaga, losskakel van die Highlanders, die Bulls twee weke gelede op Loftus Versfeld in Pretoria met ʼn strafdoel in die doodsnikke van hul Superrugbywedstryd gekelder.

Saterdagoggend in Dunedin in die suide van Nieu-Seeland het Sopoaga weer toegeslaan. Nie een keer nie, maar twee keer.

Dié keer was dit die Lions se beurt om deur te loop toe Sopoaga twee keer in die laaste vier minute met twee strafdoele in die kol was om sy span met 39-27 te laat wen het.

Sopoaga het boonop ʼn drie gedruk en met vier doelskoppe en twee strafdoele geslaag vir ʼn bydrae van 19 punte.

Enige Kerskaartjies van die Lions se kant af? Beslis nie.

Die Lions (31 punte ná 12 wedstryde) begin nou ʼn skeelhoofpyn ontwikkel, want hoewel hulle steeds voor in die Suid-Afrikaanse afdeling is, kon hulle net een uit vier wedstryde op die toer wen en kon hulle ook nie ʼn bonuspunt teen die Highlanders verdien nie.

Die Jaguares, Sharks en Stormers blaas al hoe meer in hul nekke.

Kom ons wees eerlik, al is die afrigter, Swys de Bruin, (nog) nie op moedverloor se vlakte nie, al skerm hy vir sy spelers (tereg ook), brand die waarskuwingsligte al hoe helderder.

Die Lions lyk soms sonder selfvertroue, hulle speel nie meer die avontuurlike en ondernemende rugby wat die afgelope paar seisoene gespeel is nie. Soms kom hulle planloos voor en die dissipline krap ook.

Is ons te kras, of haper daar iets.

Hulle begaan te veel hanteerfoute, soms is hul aanvalle te voorspelbaar en die besluitneming kan beter.

Ook weet ek nie wat die twee bulstutte, Ruan Dreyer en Jacques van Rooyen, op die bank doen nie. Kies hulle van die begin af, maak eers sag en stuur dan die jonger plaasvervangers op om impak te maak.

Daar was darem ʼn hele paar dinge wat die ondersteuners se harte warm laat klop het. Kwagga Smith het een van die beste vertonings van die seisoen (in die eerste helfte) gelewer, maar toe raak sy stoom op.

Franco Mostert was weer die werkesel (ek glo steeds hy ʼn beter slot) en Cyle Brink en die bankflank Marnus Schoeman het in die tweede helfte die oog getref.

Ruan Combrick was byna altyd gevaarlik op die aanval en hoewel hy weer een of twee duikslae gemis het, word hy te min ingespan, net soos Aphiwe Dyantyi.

Die puntemakers –

Highlanders 37 (19) – Drieë: Lima Sopoaga, Luke Whitelock, Liam Coltman, Waisake Naholo, Tei Walden. Doelskoppe: Sopioaga (4). Strafdoele: Sopoaga (2)

Lions 27 (15) – Drieë: Robbie Coetzee (2), Harold Vorster, Marnus Schoeman. Doelskoppe: Elton Jantjies (2). Strafdoel: Jantjies.

♦ In Tokio het die vreugdevure baie hoog gebrand toe die Sunwolves die Reds, ja die Reds wat die Lions geklop het, met 63-28 verneder het.

♦ In Christchurch het die Crusaders op hul nerwe deurgeskraap om die Waratahs met 31-29 te klop. Die ‘Tahs se koelkopslosskakel, Michael Foley, was toe nie so koelkop nie toe hy kort voor die einde met ʼn strafdoel misluk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sparks ·

JOHAN AKERMAN weg . Lions ook weg. Geen motiveering of disipliene.

Frans C ·

Dit was nog altyd ‘n probleem van alle Suid Afrikaanse spanne deur die jare.Wanneer ‘n paar sleutelspelers nie beskikbaar is nie ontbreek ritme en rigting en verloor spanne wedstryde wat hul kon gewen het.
Die Lions het beslis nie gekyk hoe die Sharks die Hi-landers geklop het nie.Jy kan nie kantlyn toe skop nie en dit nie haal nie.Jy kan ook nie die bal afskop sonder dat een speler om dit kan meeding nie, daarvoor is die meeste NZ-spanne se agterste drie te gevaarlik.

Jean ·

Highlanders het ok maar eerste helfde lekker omkant gespeel met n ref wat homself blind hou!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.