Superrugby: Sterbelaaide Hurricanes deur die Highlanders verras

In die land van die All Blacks is geen span van ʼn oorwinning verseker nie.

Dít het die Hurricanes, wat met ʼn bonuspuntsege saam met Crusaders 45 ligapunte sou gehad het, Vrydag weer op die harde manier uitgevind.

Die Highlanders het die Hurricanes, met hul rits All Blacks soos ondermeer die twee Barretts, Beauden en Jordie, die heelagter Nehe Milner-Skudder, Julian Savea en Ben Lam op die vleuel, die senter Ngani Laumape, TJ Perenara op skrumskakel en nog ʼn spul All Blacks onder die voorspelers, stukkend gespeel en oortuigend met 30-14 gewen.

Daarmee het die Highlanders hulself sterker op die algehele punteleer gevestig en feitlik verseker dat hulle een van die agt voorste spanne en dus in die uitspeelrondes sal wees. Hulle is steeds derde van die Nieu-Seelandse spanne, maar kan die Hurricanes nog in die oorblywende drie rondes verbysteek.

Die Highlanders, wat vier drieë teenoor twee gedruk het en rustyd met 8-7 voor was, het 68% van die gebiedsvoordeel gehad en ook twee keer soveel besit as die verloorspan gehad.

♦ Saterdag (07:15) speel die Blues, met slegs drie oorwinnings in 12 wedstryde, op hul tuisveld teen die Rebels, Australië se tweede beste span. Moenie verbaas wees as die Blues ná ses neerlae in ʼn ry op hul tuisveld die Aussies klop en daarmee die Rebels se uitspeelkanse knou nie.

♦ Die Chiefs speel tuis teen die Crusaders (09:35), en dit sal ʼn groot verrassing wees as hulle die kampioen kan hokslaan.

Maar, soos ons vroeër gesê het, is geen Nieu-Seelandse span teen hul landgenote van ʼn oorwinning verseker nie.

♦ Die Reds, wat wel hul seldsame goeie oomblikke in die reeks gehad het, speel tuis (11:45)  teen die Aussies se voorste span, die Waratahs, wat ook dusver dán goed en dán weer middelmatig tot vrot was.

Tog behoort die Waratahs dié een te wen.

♦ Sondag (08:05) speel die Brumbies tuis teen die Sunwolves en behoort ondanks hul eie sukkel-seisoen die Japanners te troef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.