Superrugby: Stormers dié keer reg, glo hulle in die Kaap

springbok-rugby-logoIn die Kaap spot die ondersteuners al met hulself en met die media oor die jaarlikse refrein: Vanjaar is dit die Stormers se jaar.

Dit was die afgelope hoeveel jaar egter wensdenkery, maar daar is ʼn werklike geloof dat hul span Saterdag op Nuweland, ná vier neerlae en ʼn bietjie meer as drie jaar, die bordjies teen die Lions kan verhang.

Grootliks is hul hoop gebaseer op die feit dat die Stormers vir hierdie wedstryd werklik gemotiveer sal wees nadat hulle verlede naweek teen die Sunwolves pak gekry het; en ook omdat die Lions vanjaar soos ʼn ou, oorwerkte plaastrekker dán vat, en dán weer sluk-sluk om aan die gang te kom.

Daar is ook meer as ʼn tikkie realiteit in dié siening. Die Kaapse span, op papier ‒ en veral in die voorry ‒ is ʼn goeie eenheid wat, om een of ander rede (dalk leierskap en/of afrigting?), nie aan die verwagtinge voldoen het nie.

Wie weet, dalk kliek hulle teen die Lions wat sonder Warren Whiteley ook ietwat leierloos voorkom wanneer sake teen hulle begin verkeerd loop.

Niemand weet wat werklik in Rassie Erasmus se kop aangaan nie, maar dit is feitlik seker dat die kanse nul is dat enige speler in hierdie wedstryd genoeg indruk sal maak om nog in die groep van moontlik 40 ingesluit te word.

Dit sal op Nuweland dus eintlik gaan om die span en nie die individue nie. Die Stormers glo dat hulle in hul drie oorblywende wedstryde (teen die Lions, die Jaguares weg en die Sharks op Nuweland) steeds genoeg kan doen om die uitspeelwedstryde te haal. Onwaarskynlik, en baie afhanklik van die wenpermutasies van die ander spanne wat die Stormers moet bevoordeel.

Die Lions het die Jaguares wat in hul nek blaas en moet nog benewens Saterdag se wedstryd ook nog teen die Sharks (op Kingspark) en die Bulls (op Ellispark) speel. Wen hulle twee van die drie wedstryde, is hulle stellig in die uitspeelrondes.

Spanne ‒

Stormers
15 Sarel Marais, 14 Dillyn Leyds, 13 JJ Engelbrecht, 12 Damian de Allende, 11 Raymond Rhule, 10 Jean-Luc du Plessis, 9 Dewaldt Duvenage, 8 Sikhumbuzo Notshe, 7 Kobus van Dyk, 6 Siya Kolisi (kapt.), 5 Chris van Zyl, 4 Jan de Klerk, 3 Wilco Louw, 2 Ramone Samuels, 1 JC van Rensburg. Bank: 16 Mbongeni Mbonambi, 17 Steven Kitshoff, 18 Frans Malherbe, 19 Cobus Wiese, 20 Nizaam Carr, 21 Paul de Wet, 22 EW Viljoen, 23 Craig Barry.
Lions
15 Andries Coetzee, 14 Ruan Combrinck, 13 Rohan Janse Van Rensburg, 12 Harold Vorster, 11 Aphiwe Dyantyi, 10 Elton Jantjies, 9 Nic Groom, 8 Kwagga Smith, 7 Franco Mostert (kapt.), 6 Marnus Schoeman, 5 Marvin Orie, 4 Lourens Erasmus, 3 Ruan Dreyer, 2 Robbie Coetzee, 1 Jacques Van Rooyen. Bank: 16 Corné Fourie, 17 Dylan Smith, 18 Jacobie Adriaanse, 19 Rhyno Herbst, 20 Hacjivah Dayimani, 21 Ross Cronjé, 22 Madosh Tambwe, 23 Sylvian Mahuza.

Afskop: 17:15

Skeidsregter: Nick Briant (Nieu-Seeland)
Assistentskeidsregter: Quinton Immelman (Suid-Afrika), Stephan Geldenhuys (Suid-Afrika)
TV-skeidsregter: Christie du Preez (Suid-Afrika)

♦ Op Loftus sal die Bulls ná die kopwas van John Mitchell, nadat hulle verlede naweek so naam teen die Jaguares weggegooi het, self ʼn tikseltjie meer gemotiveer wees.

Die Bulls het ʼn wedstryd minder as die Stormers en Lions gespeel en het ook nog vae drome van ʼn uitspeelplek.

Hulle is slaggereed vir die Brumbies, wat tot dusver merendeels onindrukwekkend deur die wedstrydprogram gesukkel het.

Die Brumbies het slegs drie van hul elf wedstryde tot dusver gewen, en die Bulls behoort die gebrek aan vertroue en swak dissipline van die besoekers op Loftus te kan uitbuit.

Die Bulls het hul laaste vyf wedstryde teen die Brumbies, twee daarvan op Loftus, teen die Brumbies verloor en dié Aussiespan vyf jaar laas in 2013 geklop ‒ maar dié neiging behoort Saterdag tot ʼn einde te kom.

Spanne ‒

Bulls
15 Warrick Gelant, 14 Travis Ismaiel, 13 Jesse Kriel, 12 Burger Odendaal (kaptein), 11 Johnny Kotze, 10 Handré Pollard, 9 Ivan van Zyl, 8 Marco van Staden, 7 Nic de Jager, 6 Roelof Smit, 5 Rudolph Snyman, 4 Jason Jenkins, 3 Conraad van Vuuren, 2 Jaco Visagie, 1 Trevor Nyakane. Bank: 16 Adriaan Strauss, 17 Mox Mxoli, 18 Matthys Basson, 19 Ruben van Heerden, 20 Thembelani Bholi, 21 Andre Warner, 22 Manie Libbok, 23 Divan Rossouw.
Brumbies
15 Tom Banks, 14 Henry Speight, 13 Tevita Kuridrani, 12 Kyle Godwin, 11 Andrew Muirhead, 10 Christian Lealiifano, 9 Joe Powell, 8 Isi Naisarani, 7 David Pocock, 6 Lachlan Mccaffrey, 5 Sam Carter, 4 Blake Enever, 3 Allan Ala’alatoa, 2 Folau Fainga’a, 1 Scott Sio. Bank: 16 Connal Mcinerney, 17 Nick Mayhew, 18 Leslie Leuluaialii-Makin, 19 Richie Arnold, 20 Tom Cusack, 21 Matt Lucas, 22 Wharenui Hawera, 23 Andrew Smith.

Afskop: 15:05

Skeidsregter: Marius van der Westhuizen (Suid-Afrika)
Assistentskeidsregter: AJ Jacobs (Suid-Afrika), Jaco Pretorius (Suid-Afrika)
TV-skeidsregter: Willie Vos (Suid-Afrika)

In Australasië

Die Chiefs, op hul tuisveld, is die derde van die Nieu-Seelandse spanne op die punteleer. Hulle kan nog as een van die agt beste spanne die uitspeelrondes haal.

Saterdag (09:35) kom hulle te staan teen die Aussies se bestes, die Waratahs wat minder ligapunte en ook een oorwinning minder het.

Die baie wisselvallige Chiefs sal hul koppe bymekaar moet hou teen die Waratahs wat verlede naweek met die Highlanders gemors het en die vorige week deur ʼn baie omstrede beslissing met twee punte teen die Crusaders verloor het.

Die Reds is buite die uitspeelprentjie. Hulle het die Lions drie weke gelede geklop, toe ʼn yslike loesing teen die Sunwolves gekry en verlede naweek so byna met Nieu-Seeland se tweede bestes, die Hurricanes, afgereken.

Die Reds speel Saterdag (11:45) tuis teen die Highlanders in wat ʼn niksseggende gelykopstryd behoort te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Genieve ·

Kyk ek is nie n drinker nie maar more sal ek n whisky moet drink want dis vriend teen vyand..lmklaaaaa die Stormers is bekend met nuweland maar moenie my span die Lions afskryf nie…more kom ons nie met die lag nie…sterkte manne in die Rooi.

Joe Hall ·

Siende dat die Jaguares in werklikheid die nasionale span van Argentinië is, sal dit maar ‘n treurige dag vir die Argentyne wees indien hulle tweede viool teen Suid Afrikaanse provinsiale spanne moet speel.

rollie ·

Nie heeltemal waar nie. Hulle het ‘n hele paar toetsspelers wat in Europa speel wat nie tussen wereldbekers oorweeg word nie. Hierdie oorsese spelers sal hul span nog verder versterk vir die wereldbeker, kyk maar. Daar is ten minste 5 spelers oorsee wat eerste keuses sal wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.