Superrugby: Stormers se waagstuk kan boemerang

Robbie Fleck – sy waagstuk kan boemerang (Foto: Facebook)

Dis altyd ʼn waagstuk wanneer ʼn afrigter ʼn speler uit posisie kies.

Ek praat nou nie hier van ʼn heelagter wat vleuel speel of ʼn losskakel wat senter toe skuif nie, want dié posisies is byna inmekaar geweef.

Maar wanneer ʼn heelagter/vleuel die dag losskakel toe skuif, kan  daar perde wees.

Dis hoekom die Stormersafrigter, Robbie Fleck, se besluit om Dillyn Leyds in Vrydagaand se  Superwedstryd teen die Blues op Nuweland met die nr.10-trui toe te vertrou, kan boemerang.

Ja, Leyds het op skool losskakel gespeel; ja, hy het baie vaardighede en natuurlike  talent, en ja, hy skop takties goed.

Maar onder druk?

Dis hoekom die vertoning van die Stormers se pak en die skrumskakel, Dewaldt Duvenhage, in die kollig sal wees. As hulle Leyds kan beskerm en hom uit die kloue van die Blues se voorspelers kan hou, en as hulle daarin kan slaag om hom nie onnodig in ʼn drukkokersituasie te plaas nie en genoeg spelers in sy kanaal kan hê om te help verdedig, kan dit ʼn meesterskuif wees, hoewel ek nog altyd my bedenkinge oor só ʼn skuif gehad het.

Die Stormers behoort die oorhand oor die Blues te hê wat die afgelope paar jaar die swakste van die Nieu-Seelandse spanne in die Superreeks vaar.

Om die een of ander rede kon vorige bekwame afrigters soos John Kirwan en Pat Lam nie die span as ʼn eenheid saamsnoer nie.  Sedert verlede seisoen het Tana Umaga dit reggekry en toon die Blues ʼn opwaartse kurwe.

Die insette van Paul Feeney, een van die Stormers se hulpafrigters, gaan baie waardevol wees. Hy was voorheen in die Blueskamp, en weet presies waar hul sterk- en swakpunte (soos ʼn gebrek aan dissipline)  is. Hy weet ook dat hulle sukkel wanneer jy in hul gesigte boer, en dat hulle nie by hul spelpatroon hou wanneer dinge verkeerd gaan nie.

Maar hy weet ook wat teen die Stormers kan tel, soos die afgelope vier kragmetings wat hulle verloor het.

Is hul selfvertroue geknou? Wat van wenkontinuïteit?

Moet dus nie verbaas wees as die Stormers die wind van voor kry nie, hoewel hulle met 10 punte behoort te wen.

♦   In Suva, Fidji, pak die Chiefs die Crusaders in ʼn wedstryd wat baie betekenisvol vir die Lions kan wees.

As die Crusaders op die wenpad bly, kruip hulle al hoe nader daaraan om al hul uitspeelstryde tuis  te speel.

As die Chiefs wen, kan hulle die Lions ʼn baie groot guns bewys, want dan is die agterdeur oop vir drie uitspeelwedstryde in die Leeukuil op Ellispark.

Verlede jaar het die Chiefs die Crusaders in Fidji (die wedstryd word daar gespeel om rugby in die Suidsee-eilande te bevorder) geklop, omdat hulle voorlangs oorheers het, meer fisiek was, en omdat hulle nie die ander wang gedraai het nie.

Maar vanjaar het die Crusaders teenvoeters daarvoor gevind en behoort hulle nie weer in dieselfde strik te trap nie.

Vrydag se bepalings –
09:35: Chiefs vs Crusaders (Suva, Fidji)
19:00: Stormers vs Blues (Nuweland)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jack Russl ·

Ek dink eerder dat hulle vir ‘n slag die speler in posisie speel. Dillyn is ‘n heelagter/losskakel en nie ‘n vleuel nie. Sy jonger dae en toe hy in Aus gespeel het was jy ‘n heelagter/losskakel. Selfs SARU se website is dit so aangeteken.

Die vraag moet eerder wees hoekom hulle die heeltyd ‘n losskakel op vleuel sit en nie andersom nie.

Laat waai ·

Laat waai Flekkie, ek dink dit is ‘n goeie besluit! Kry ons ‘n slag aan die wenkant, die Bulle maak mens klaar met die verloor lol. Dit sal goed gaan, veral as ek die komentaar van Jack lees.

Nico K ·

Ek dink ook om heelagters na losskakel te skuif is iets wat al baie gedoen is. Johan Heunis en Gysie Pienaar het uitstekende losskakels geword na hulle op heelagter beroemd geword het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.