Superrugby: Stormers slag Jaguares af in die reën

Stormers en die Jaguares Saterdag in aksie. (Foto: Twitter/Jaguares)

Dit is een van die moeilikste take om die Argentynse Jaguares onder te kry, veral as dit boonop reën.

Saterdag op Nuweland is die Stormers beproef voordat hulle die Argentyne met 17 – 7 in hul Superrugbywedstryd kon klop nadat hulle rustyd net met 3 – 0 voor was.

Mooi was dit beslis nie, maar wat saak gemaak het, is dat die Stormers steeds onoorwonne is en dat die Jaguares, wat in verlede jaar se eindstryd teen die Crusaders verloor het, reeds twee keer vanjaar verloor het.

Die Stormers het besluit om persentasie-rugby te speel, om die Springbokke se patroon in die aanloop tot verlede jaar se Wêreldbeker-eindstryd te gebruik.

Die grondslag is in die vaste fasette gelê, veral in die skrums, waar die Stormers male sonder tal die Jaguares geknak het.

Dan is die twee senters, Jamie Roberts en Ruhan Nel, oorwegend as stormramme gebruik, om oor die voordeellyn te kom, om van tweede, derde en vierde fase-spel nog ʼn aanslag te begin. Vergeet van tierlantyntjies, volgende week is die vertoning op die rak geplaas, die puntelys kan nie verander nie.

Die Stormers het altesame 33 keer geskop, teenoor die Jaguares se 24. In dié toestande was dit die regte besluit.

Stormers en die Jaguares Saterdag in aksie. (Foto: Twitter/Jaguares)

Die Stormers het ook die bal meer gedra en verder gevorder (345 meter teenoor 314) as die Jaguares en ook die bal meer uitgegee (127 keer teenoor 99).

Die Stormers het 107 duikslae uitgevoer, waarvan 24 onsuksesvol was, maar die verdedigingspatroon was van so ʼn aard dat die besoekers nie raad gehad het nie.

ʼn Mens moet sekerlik nie te veel in die Stormers se taktiek en vertoning lees nie, want die hooftaak was om die Jaguares te klop, wat hulle suksesvol uitgevoer het.

Hulle het gewys dat hulle die sakkie kan toeknoop wanneer die wen daarin is.

Hulle het weer gewys hoe Herschel Jantjies enige wedstryd op sy kop kan keer, maar Saterdag se vertoning sal ook nie te veel skokgolwe by van die ander topspanne maak nie.

Aan die ander kant, watter ander span het vanjaar al na vore getree as moontlike bekerwenner?

Puntemakers:

Stormers: Drieë: Herschel Jantjies, Ruhan Nel. Doelskoppe: Damian Willemse. Strafdoel: Willemse.

Jaguares 7 (0): Drie: Rodrigo Bruni.  Doelskop: Domingo Miotti.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Scholtz ·

“Slag” suggureer ‘n slagting, wat dit allesbehalwe was. Hulle het eerder geswoeg om die oorwinning te behaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.