Superrugby: Stormers verfomfaai Hurricanes

(Foto: Facebook)

Hoe sê hulle nou weer elke jaar in die Kaap: Vanjaar is ons jaar.

Maar dalk is dit vanjaar die jaar van die Stormers, veral as hulle kan voortbou op Saterdag se kliniese vertoning op Nuweland toe hulle die Hurricanes met 27-0 oordonder het.

Die Stormers was rustyd reeds met 19-0 voor en het dié geniepsige wedstryd afgerond met ʼn onderskep-drie deur die kwiksilwer-losskakel Damian Willemse, wat oor die hele veld kort voor die einde gehardloop het om af te rond.

Die slag is reeds in die eerste helfte geslaan toe dit duidelik was dat die Hurricanes sou vou.

Net soos die Springbokke vir Engeland in vanjaar se Wêreldbekertoernooi in Japan pap in die skrums gedruk het, het die Stormers dieselfde doepa gebruik, wat die Hurricanes onkant betrap het. Hulle het geen teenvoeter daarvoor gehad nie en het ʼn rits strafskoppe in die skrums prysgegee.

Omdat hulle die bal op die agtervoet ontvang het, het die Hurricanes soms soos skoolseuns teen ou, ervare ooms gelyk.

Hulle is oordonder, in foute gedwing en dit het selde gelyk asof hulle ʼn drie kon druk.

Dis toe dat hulle maar die reëls gebuig het, spelers hoog en om die nek beetgekry het, by losskrums ingedons het.

Hoe die haker Ricky Riccitelli op die veld kon bly nadat hy Siya Kolisi laat geloop het, is ʼn ope vraag.

Niemand sou ook die skeidsregter, Jaco Peyper, verkwalik het as hy die Hurricanes se plaasvervanger-slot, Vaea Fifita, met ʼn rooi kaart gestraf het ná ʼn gevaarlike skouerloop nie. Dan het Billy Procter ook ʼn geel kaart gekry toe hy Willemse laat geloop het.

Maar die Stormers het nie die ander wang gedraai nie en hoewel hulle ʼn hele paar keer gestraf is (sewe keer teenoor 12), het hulle behoorlik die slae uitgedeel.

Die grootste pluimpie moet aan die skrumskakel Herschel Jantjies gaan, wat die Hurricanes, voordat hy in die tweede helfte vervang is, met sy kronkellopies dronk gehardloop het. Hier is ʼn blink diamant na wie goed gekyk moet word.

Pieter-Steph du Toit was oudergewoonte weer ʼn yster en ʼn werkesel met Stephen Kitshoff net ʼn kortkop agter hom. Só ook die res van die pak.

Agterlangs is daar vaart en ondernemingsgees, dalk genoeg om vanjaar die kroon te span.

Die statistieke vertel die verhaal: Die Stormers het 481 m met die bal gevorder en die Hurricanes net 219.

Die Stormers het net 66 duikslae uitgevoer, waarvan hulle tien gemis het. Die Hurricanes moes 107 duikslae maak, waarvan hulle 24 gemis het.

Puntemakers: Stormers 27 (19): Drieë: Sergeal Petersen, Stephen Kitshoff, Herschel Jantjies, Damian Willemse. Doelskoppe: Willemse (2). Strafdoel: Willemse.

Hurricanes 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Niklaas ·

Mooi so. Puik spel gelewer .Volhard nou net met hierdie pas en moenie verslap nie. Dan gaan die Kaapse span vanjaar ver kom.

Phil ·

Baie geluk Stormers, n goeie wegspring , moet net weer slap le nie.

OppieProvince ·

My Span maak my trots, nog vroeg in die kompetisie, maar dit lyk belowend!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.