Superrugby: Sunwolves laat rooi gesigte by Sanzar

(Foto: Twitter)

Daar wag ʼn hele paar strikvrae op die organiseerders van vanjaar se Superrugby-reeks, maar dit is te betwyfel of hulle die regte oplossings gaan vind.

Die Sunwolves-tameletjie gaan nog lank by hulle spook, hulle sal vinnig moet optree om na spelerswelstand om te sien en toeskouersgetalle is steeds aan’t kwyn.

En dit net ná net een naweek met byna vyf maande wat nog voorlê!

Daar was een groot skok wat die buitelandse spanne betref toe die onbesonge Sunwolves die Rebels Saterdag in Tokio met 36-27 vir ʼn bonuspunt-sege getroef het.

Die Rebels is nog nooit voorheen deur die Sunwolves geklop nie, maar alle goeie dinge kom mos tot ʼn einde, sal hul afrigter, Dave Wessels, sê.

Dit is die swanesang vir die Sunwolves in die Superreeks en hul oorwinning moes ʼn hele paar rooi gesigte in Melbourne en Sydney (die hoofkwartier van Sanzar, die beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond) gelaat het.

Hoe verdedig jy jou besluit om die Sunwolves uit die reeks te skop, veral ná verlede jaar se uiters suksesvolle Wêreldbekertoernooi in Japan waar die kloppe op die skouers uitgedeel is?

Hoe regverdig jy die volgehoue insluiting van die Rebels in die reeks?

Ja, hulle speel meestal met Australiese spelers en ontwikkel plaaslike talent, maar hoe anders gaan die Sunwolves verder ontwikkel as hulle nie buitelanders inspan om hulle mededingend te maak nie? Dit was mos al jare lank die resep van Japanse rugby.

Maar kom ons gee ʼn speler soos Garth April, die oud-losskakel van die Sharks, die eer wat hom Saterdag toegekom het.

Hy het 18 punte aangeteken (ʼn drie, vyf doelskoppe en ʼn strafdoel) en het baie waarde tot die Sunwolves gevoeg.

* Op Trafalgar Park in Nelson het die Crusaders die Waratahs met 43-25 geklop. Die Crusaders is sonder die helfte van hul All Black-pak (Kieran Read, Sam Whitelock, Owen Franks, Jordan Taufua en Matt Todd), maar hulle is steeds baie gedug.

Die Waratahs ploeg vanjaar met ʼn rits opwindende nuwelinge, van wie vleuel Mark Nawaqanitawase die oog getref het.

Hy het twee drieë gedruk en dit sal geensins ʼn verrassing wees as die Wallabies se nuwe afrigter, Dave Rennie, hom reeds dié seisoen by sy nasionale groep gaan betrek nie.

* Die Brumbies het Vrydag in versengende hitte (39 °C) in Canberra die Reds met 27-24 geklop.

Die Brumbies se afrigter, Dan McKellar, was erg beswaard oor die hitte, maar hoe kan Sanzar dié probleem die hoof bied?

* Die Chiefs, wat dié seisoen deur die oud-Walliese en Britse en Ierse Leeus-afrigter, Warren Gatland, afgerig word, het die ou kwaal van die Blues weer na vore laat kom toe hulle hul kragmeting met 37-29 op Eden Park in Auckland gewen het.

Die Blues gaan vanjaar maar weer aan die agterspeen suig ondanks die puik spel wat hulle in die eerste helfte uitgestal het. Wanneer hulle onder druk kom, vou hul kaartehuis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Phil

Hier kom n ding, hou maar die Sun Wolves dop …! Groter spanne gaan nog slae kry!