Superrugby: Sunwolves laat Stormers huis toe verlang

Enige besoek aan Hongkong is een wat jy nie maklik vergeet nie, maar die Stormers sal dit nie te lank wil onthou nie.

Die Sunwolves, ja die Sunwolves, het die Stormers Saterdag in die Mongkok-stadion met 26-23 in hul Superrugbywedstryd geklop nadat die Stormers rustyd met 17-10 voor was.

Hayden Parker, die Sunwolves se Highlanders-losskakel, het diep in beseringstyd die wenskepdoel behaal, nogal met sy regtervoet, hoewel hy links is.

Dit het ʼn mens laat terugdink aan die Wêreldbeker-eindstryd in 2003 in Sydney, toe Jonny Wilkinson ook met sy (verkeerde) regtervoet die wenskepdoel vir Engeland oorgeklits het.

Parker het boonop ’n drie gedruk, drie strafdoele behaal en twee doelskoppe oorgeskop: hy het dus “gedrop, geplace en gescore” in sy bydrae van 21 punte.

Dit was bloedig warm met hoë humiditeit, maar onthou dat albei spanne dié toestande te bowe moes kom.

Onthou ook dat ʼn veel koeler Tokio, en nie Hongkong nie, die Sunwolves se tuiste is.

Die toestande het daartoe gelei dat veral die Stormers, met tien Springbokke in hul groep, baie hanteerfoute begaan het.

Is dit nie maar ʼn algemene neiging by Suid-Afrikaanse spanne nie? Afrigting?

Die Sunwolves het dit uitgebuit met Parker wat hulle met hoë skoppe gepeper het. Dit het tot bottervingers gelei en hoewel die Stormers die Sunwolves in die skrums opgefrommel het, het hulle steeds genoeg besit in die lynstane en in die los gekry om aanvalle uit te voer, te maal en te dryf.

ʼn Mens moet jou hoed afhaal vir die Sunwolves se breier (en Japan se afrigter), Jamie Joseph, wat die Sunwolves in ʼn gedugte eenheid laat ontwikkel het. Onthou dat hulle die Lions byna op Ellispark verslaan het (38-40) en verlede Saterdag die Reds in Tokio met 63-28 verslaan het.

Dis danksy ʼn hele paar Suid-Afrikaners soos Grant Hattingh en Willie Brits, ʼn rits Nieu-Seelanders, ʼn Aussie of twee en spelers van die Suidsee-Eilande, maar  jy moet steeds die spelers se basiese vaardighede ontwikkel en verbeter – en dis wat Joseph reggekry het.

En die Stormers?

Dié keer kan die skeidsregter nie geblameer word nie (soos met verlede week se nederlaag teen die Chiefs), want die Aussie Nic Berry het die Sunwolves grensloos gestraf en een of twee TV-beslissings kon enige kant toe gegaan het.

Dis terug tekenbord toe, soos daar altyd gesê word.

Puntemakers –

Sunwolves (10) 26: Drieë:  Hayden Parker, Grant Hattingh. Doelskoppe: Parker (2). Strafdoele: Parker (3). Skepdoel: Parker.
Stormers (17) 23: Drieë: Dillyn Leyds (2), JJ Engelbrecht. Doelskoppe: Jean-Luc du Plessis. Strafdoele: SP Marais (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Henk ·

En weereens word SA se spelers en afrigters se “ one track mind set” en onvermoe om hardloop rugby af te rig bloot gele!!

Henk ·

En weereens word SA se spelers en afrigters se “ one track mind set” en onvermoe om hardloop rugby af te rig bloot gele!! Waaroor gaan die afrigters nou kla? Die ref?

Spike ·

Weens die politieke inmenging sal sa rugby nie weer die gevreesde spanne van vroëer wees nie. Go Kiwi spanne.

What a joke! ·

Hahaha ai stormers,!!! Maar kyk weer hoeveel stormers is in die bok span …

CdV ·

Einde van Stormers se aanspraak en ek hoop ook Flekkie. Wat Ek nie kan verstaan nie, jy het die spul
talentvolle spelers wat glad nie by die spel op die veld kan aanpas nie. Al hul “talent” is uit hul uit afgerig dat hul nou totaal”useless” is. Lyk my egter die Hong Kong trippie word eerder deur die spelers as ‘n vroeë Kersinkopie geleentheid gesien, as om rugby te gaan speel.Skande!! Waar is ons nasietrots – saam Mandela in sy graf?

Michael ·

Ek stem saam CdV. Die stormers is nou op die laagste punt in die geskiedenis van WP rugby. Hoe gaan dit ooit reg kom? En hulle wil Siya die kaptein van die bokke maak.

rollie ·

Fleck is useless, baie swakker as wat toetie ooit was. Kry ‘n ordentlike afrigter.

DHK ·

Al wie useless is, is die Stormers se spelers. Iemand het so twee weke gelede vermakerig geskimp dat Rassie suid moet kyk as hy sy Springbokspan kies. Behoede ons as hy daardie skimp vang…

Nouja ·

Kan nie verstaan hoekom SA losskakels self so min van skepskop gebruik maak nie. Is dit ‘n geval van kannie of is dit willie of is dit weetie?
Ek sit en kyk hier na die Chiefs/Sharks wedstryd en het al ‘n paar geleenthede opgemerk waar ‘n skepskop maklik uitgevoer kon word, maar nee stamp kar rugby wil hul eerder speel.

Stephen Namibia ·

Spike jy slaan die spyker op die kop. Verder is De Allende ellendig en ek kan nie verstaan dat almal hom so hoog aanskryf nie..
Die wedstryd het weereens bewys waaroor die spel rugby regtig gaan.
Hardloop met die bal.!

Michael ·

Nouja .Jy is reg stamp kar rugby kyk van oggend stamp kar rugby kos hulle die game Sunwolves wou wen. weereens n bewys speel hardloop rugby en jy wen.

DHK ·

En hulle kry pakslae teen die span wat heel laaste op die algehele puntelys lê. Swak.

Frans C ·

Die meeste of eintlik alle Suid Afrikaanse spanne is leierloos. Die Stormers kon met twee
punte in die sakkie huistoe gekom het,deur die bal uit te skop,maar besluit om te dobbel en toe verloor hulle.
Wie se besluit was dit om die die spel gelykop te laat eindig nie,want ‘n halwe eier bly altyd beter as ‘n leë dop.Kan die sfrigter werklik vir die besluit blameer word of moet die spelers verduidelik?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.