Superrugby: Swaarkry se dinge lê voor

Kom ons aanvaar dit maar … Nieu-Seelandse rugby bly ons vooruit.

Saterdag in Christchurch is dit weer bewys toe die Crusaders die Lions met 37-18 in die eindstryd van die Superrugbyreeks geklop het.

Uit ʼn rugbyoogpunt het die Crusaders dit verdien om die reeks te wen, want hulle het regdeur die seisoen die pas aangegee en nie met rukke en stote gespeel nie.

Hulle het geen oënskynlike leemtes gehad nie, hul voorspelers het die basiese vaardighede reg uitgevoer en die agterspelers het afgerond. Hulle het die meeste drieë (89) gedruk, die minste afgestaan en het net twee van hul 19 wedstryde verloor.

Hulle het deur die seisoen 86,5% van hul lynstane gewen, en ook in die losskrums 96,6% en in die skrums 92,6% sukses gehad.

Die Crusaders het Saterdag boonop slimmer as die Lions gespeel, hul swakpunte uitgebuit,  ongelooflike druk op die rolmale geplaas, Malcolm Marx heeltemal geïsoleer en Elton Jantjies só onder druk geplaas (en soos gewoonlik in belangrike wedstryde het hy wéér die kluts kwytgeraak) dat die Lions se agterlyn al hoe dieper begin speel het en met opskietverdediging agter die voordeellyn gesmoor is.

Ja, die Crusaders-span wemel van All Blacks en wanneer Steve Hansen en sy medekeurders  Maandag hul groep vir die komende Rugbykampioenskap aanwys, sal ʼn rits Crusaders beloon word.

Maar wat kommerwekkend vir die teenstanders moet wees, is dat die oorgrote meerderheid van die All Blacks se opdraf-agterspelers, soos Ben Smith, Rieko Ioane, Waisake Naholo, Nehe Milner-Skudder, Sonny Bill Williams,  die twee Barrett-broers, Damian McKenzie en Aaron Smith, vir ander spanne as die Crusaders speel.

Die pad vorentoe vir Nieu-Seelandse rugby is steeds geplavei. Die Crusaders speel soos die All Blacks en die All Blacks soos die Crusaders.

Daar is oorgenoeg diepte en ongelooflike vaardighede.

En die Springbokke?

Die Lions was vanjaar, net soos die afgelope drie jaar, die kroonjuweel  van Suid-Afrikaanse rugby.

Maar speel die Springbokke soos die Lions en die Lions soos die Springbokke?

Hoeveel Lions gaan Maandag deur die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, beloon word? Vier, vyf?

Ja, Aphiwe Dyantyi, Marx, Franco Mostert en Warren Whiteley se plekke is hopelik bespreek en Ruan Combrinck, Kwagga Smith en Cyle Brink is van die buiteperde.

Maar die groot vraag bly bestaan: Hoe gaan jy die Superreeks wen of die All Blacks klop?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Joshua ·

Die verskil in tydzone bevoordeel die Kiwi’s, hulle speel opstruksioneel en die man af van die bal meer en die huidige reels is op alle spanne van toepassing behalwe op die Kiwi’s behalwe toe Noordelike halfrond skeidsregters hul Britse Leeus bubble geblaas het, hul rugby fabriek word onregverdig gevoed deur horde spelers van Fiji, Samoa en Tonga, onse kwota sisteem moor ons rugby-tyd vir SARU om te verander en ons Super14 spanne te ontrek en Europa toe te vat waar daar reeds 300+ SA spelers speel wat die Springbokspan baie sal versterk.

Rupert Ashford ·

Meeste van daai horde spelers sal nogsteeds nie vir jou franchise spanne of die nasionale span mag speel nie en jy weet hoekom.

Wesley ·

Ek stem saam nou is die tyd om weg te breek van SANZAAR. Ek glo die vriendelike bonde met die ander 3 lande is tot nadeel van ons eie. En ter selle tyd word ons uitgekryt as swak deur NZ, terwyl dit eintlik ons ander aspekte wat hul aanvul. Sonder ons is hul niks maar is nie noodwendig andersom waar nie. Tyd ons daai bond knip en begin goeie SA rugby sense navolg pleks opsuig tot die klomp australiasiers

Frans C ·

Baie maklik om die vraag oor superrugby te beantwoord.Die tyd dat een span ‘n ander span verswak deur gedurig spelers af te rokkel met beter voordele ens,moet end kry.
Jy maak Springbokrugby nie beter deur een span ten koste van ‘n ander te versterk nie.

NZ het 190 beroepsspeler in hul 5 Franchises,dus ongeveer 36 per span.As Suid Afrika nie 4-spanne van gelyke sterkte in die kompetisie kan inskryf nie,dan sal niks gebeur nie.
Jy word net beter as die kompetisie verbeter en nie as een span tot groot plesier van sy ondersteuners ‘n ander oordonder nie.

Provinsialisme moet wat superrugby so gou as wat moontlik is einde kry,gebruik dit
vir nasionale en nie internasionale kompetisies nie.Dit is tyd dat rugby liefhebbers en bestuur wakker skrik, as jou beste span verloor teen die swakste spanne in die kompetisie en net as gevolg van die stelsel die eindstryd haal,is daar ‘n groot skroef los in SA rugby en ‘n mens kan nie net die kwotastelsel die skuld gee nie.

Niklaas ·

Die Crusaders hrt dalks nie eers hul beste rugby opgedis nie. Die All black span word Maandag gekies en daar is altyd vrees vir beserings. Min nasionale spanne sou hierdie gedugte span kon klop. Die Lions sou selfs met ‘n beter losskakel nie kon wen nie. Telkens , as die Lions die agterstand uitwis , druk die NZ span net gougou weer n drie om gemaklik voor te bly. Dit mag dalks ook so gaan vir die Bokke teen die Kiwis hierdie jaar.

Riaan ·

Ag Joshua die verskil tussen die Kiwis en SA is dat hulle kan rugby speel.
Daai klein eilandjie leef rugby, jy kan mos nie verwag dat die klein eilandjies rondom NZ hulle eie spanne form nie.
Dan kan mens net sowel se dat SA net n Springboks span moet maak uit die Vrystaat.
Dis net suur druiwe, alles van NZ rugby is briljant, hulle weet presies wat om te doen, hulle het oor as genoeg game brakers, SA het geen maar geen game brakers nie.

kas ·

Die enidste manier hoe ‘n Suid Afrikaanse span ‘n All Black sal klop is as laasgenoemde vir tien minute gaan water drink,halftyd uitgesluit.Hulle is ‘n superspan met super vaardighede en super afrigters en is in die posisie om die heel bestes te kies.Hulle spelers verdien hulle plekke.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.