Superrugby: Twee wedstryde wat later die deurslag kan gee

superrugby-logo-regteIn ʼn ideale rugbywêreld sou die Stormers en die Bulls, en ook die Lions en die Cheetahs, nie in vanjaar se Superreeks teen mekaar wou wegspring nie. ʼn Amptelike ‘losmaker’ op eie bodem teen sê nou maar die Sunwolves sou ideaal gewees het.

Terwyl ʼn mens ook moet onthou dat die Kings Saterdag speel, kan die naweek se uitslae tussen hierdie vier grotes op die puntelys ʼn effek hê wat teen die toernooi-einde bepalend vir ʼn uitspeelplek al dan nie sal wees.

Cheetahs vs Lions, 15:05

Die Lions, Suid-Afrika se voorste span in 2016, word allerweë as die gunsteling beskou om in Bloemfontein teen die Cheetahs te wen. Die verlies van hulle twee skrumverwoesters, die Springbok Julian Redelinghuys op vaskop en die jong Dylan Smith aan die linkerkant, word deur baie beskou as ʼn besliste aanduiding dat hulle in  die skrums sal sukkel wat een van hul sterkpunte was.

Maar is dit so? Ruan Dreyer met 45 Superwedstryde, vat-vat aan sy vyftigtal; en Jacques van Rooyen het al 31 Superwedstryde agter die rug.

Die Vrystaters se voorry van Johan Coetzee, Torsten van Jaarsveld en Charles Marais is self nie te versmaai nie, maar behoort nie te oorheers nie.

Die Cheetahs het die week hul skrumskakel Shaun Venter verloor. Tian Meyer is geen groentjie nie, maar Venter se besering en die afwesigheid van hul kaptein Francois Venter kan die blitsagterlyn seermaak.

By die Lions wonder jy of Howard Mnisi, uit eie reg ʼn stewige senter, die regte roep langs Rohan Janse van Rensburg is wat soveel drieë saam met Lionel Mapoe help maak en self gedruk het.

Die springbokke Jaco Kriel teen Uzair Cassiem as oopkantflanke, en die jong Ruan Ackermann teen die gesoute Oupa Mohoje behoort ook vir lekker tweestryde te sorg.

Die Cheetahs gló hulle kan – maar dit sal, selfs in Bloemfontein, bars gaan teen ʼn span wat selfvertroue en ervaring het.

Dit wen egter nie wedstryde nie …

Stormers vs Bulls, 19:30

Op Nuweland sal die Stormers met ʼn paar verrassings in die opdrafspan met ʼn nuwe Bullsspan te doen kry.

By ‘nuwe’ bedoel ʼn mens ook nie Nollis Marais se manne sal heeltyd hardloop nie. Hulle is egter nou bereid en het die selfvertroue om te speel soos hulle die wedstryd sien.

Agterlangs, vanaf Jessie Kriel tot by Handré Pollard het die Bulls die  agterspelers wat die teenstand op ʼn goeie dag kan flenters sny. Dit sal afhang van wat voorlangs gebeur.

Die skrums sal belangrik wees, en ook die stryd op slot waar Lood de Jager en Eben Etzebeth mekaar behoorlik sal vat. RG Snyman teen Pieter-Steph du Toit behoort ook vir ʼn lynstaanriller te sorg.

Die losbal kan deurslaggewend wees. Benewens die vaste vyf wat in die afdeling hulle werk deeglik sal moet doen, is daar tweestryde tussen die Stormerskaptein Siya Kolisi en Jacques Potgieter as vaskopflanke nommers sewes om na uit te sien; en Rynhardt Elstadt en Nic de Jager wat omkeerbesit sal nastreef.

Dit gaan, met manne soos Etzebeth en Elstadt om die Stormersvuur te stook en Jacques Potgieter, RG Snyman en Lood de Jager, aan die Bulls se kant kliphard wees.

Dalk sal dit eindelik die groter ervaring van Pollard-hulle wees wat die skaal sal swaai.

Kings vs Jaguares, 17:15

Die Kings glo hulle is waar hulle moet wees en het veral in die voorry ʼn klompie ysters in die beginspan én op die bank.

ʼn Ervare skakelpaar, Louis Schreuder en Lionel Cronje, sal egter moet skerp wees as hulle met die verwagte minder besit, veral losballe, iets met ʼn agterlyn wil uitrig wat te lig vir hierdie vlak lyk.

Hulle speel teen die Jaguares, wat wel nie oral hul heel sterkstes saamgebring het nie, maar nietemin met hulle ervaring en gehalte hierdie een in die sakke behoort te sit.

♦  Die ander Superwedstryde Saterdag is die Sunwolves teen die Hurricanes (06:15) waar Riaan Viljoen en Willie Britz vir die Japanners speel; die Crusaders wat tuis teen die Brumbies speel; en die Waratahs en Force wat in Sydney kragte meet.

Die SA spanne en hul teenstanders –

Cheetahs vs Lions, Toyotastadion – 15:05
Cheetahs
15 Clayton Blommetjies, 14 Sergeal Petersen, 13 Nico Lee, 12 Clinton Swart, 11 Raymond Rhule, 10 Fred Zeilinga, 9 Tian Meyer, 8 Paul Schoeman, 7 Oupa Mohoje, 6 Uzair Cassiem, 5 Reniel Hugo, 4 Justin Basson, 3 Johan Coetzee, 2 Torsten van Jaarsveld (kapt.), 1 Charles Marais. Bank: 16 Elandré Huggett, 17 Danie Mienie, 18 Ox Nche, 19 Francois Uys, 20 Niell Jordaan, 21 Zee Mkhabela, 22 Niel Marais, 23 Ryno Benjamin.
Lions
15 Andries Coetzee, 14 Lionel Mapoe, 13 Howard Mnisi, 12 Rohan Janse van Rensburg, 11 Courtnall Skosan, 10 Elton Jantjies, 9 Faf de Klerk, 8 Warren Whiteley (kapt.), 7 Ruan Ackermann, 6 Jaco Kriel, 5 Franco Mostert, 4 Andries Ferreira, 3 Ruan Dreyer, 2 Malcolm Marx, 1 Jacques van Rooyen. Bank: 16 Akker van der Merwe, 17 Corné Fourie, 18 Johannes Jonker, 19 Lourens Erasmus, 20 Kwagga Smith, 21 Ross Cronje, 22 Harold Vorster, 23 Jaco van der Walt.

Kings vs Jaguares, Nelson Mandelabaai-stadion –17:15
Kings
15 Chrysander Botha, 14 Makazole Mapimpi, 13 Berton Klaasen, 12 Waylon Murray, 11 Malcolm Jaer, 10 Lionel Cronje, 9 Louis Schreuder, 8 Ruan Lerm, 7 Stefan Willemse, 6 Andisa Ntsila, 5 Mzwanele Zito, 4 Irne Herbst, 3 Ross Geldenhuys, 2 Michael Willemse, 1 Schalk Ferreira (kapt.).
Bank: 16 Martin Bezuidenhout, 17 Schalk van der Merwe, 18 Chris Heiberg, 19 Tyler Paul, 20 Chris Cloete, 21 Rudi van Rooyen, 22 Masixole ‘Coyi’ Banda, 23 Luzuko Vulindlu.
Jaguares
15 Joaquín Tuculet, 14 Matías Orlando, 13 Matías Moroni, 12 Jerónimo de la Fuente, 11 Santiago Cordero, 10 Joaquín Díaz Bonilla, 9 Gonzalo Bertranou, 8 Leonardo Senatore, 7 Pablo Matera, 6 Tomás Lezana, 5 Matías Alemanno, 4 Guido Petti, 3 Felipe Arregui, 2 Agustín Creevy (kapt.), 1 Lucas Noguera Paz. Bank: 16 Julián Montoya, 17 Santiago García Botta, 18 Cristian Bartoloni, 19 Marcos Kremer, 20 Rodrigo Báez, 21 Felipe Ezcurra, 22 Santiago González Iglesias, 23 Ramiro Moyano.

Stormers vs Bulls, Nuweland – 19:30
Stormers
15 SP Marais, 14 Cheslin Kolbe, 13 EW Viljoen, 12 Damian de Allende, 11 Dillyn Leyds, 10 Jean-Luc du Plessis, 9 Jano Vermaak, 8 Nizaam Carr, 7 Siya Kolisi (kapt.), 6 Rynhardt Elstadt, 5 Pieter-Steph du Toit, 4 Eben Etzebeth, 3 Wilco Louw, 2 Bongi Mbonambi, 1 JC Janse van Rensburg. Bank: 16 Ramone Samuels, 17 Oli Kebble, 18 Frans Malherbe, 19 Chris van Zyl, 20 Sikhumbuzo Notshe, 21 Dewaldt Duvenage, 22 Dan Kriel, 23 Robert du Preez.
Bulls
15 Jesse Kriel, 14 Jamba Ulengo, 13 Dries Swanepoel, 12 Burger Odendaal, 11 Travis Ismaiel, 10 Handre Pollard (kapt.), 9 Rudy Paige, 8 Hanro Liebenberg, 7 Jacques Potgieter, 6 Nick de Jager, 5 RG Snyman, 4 Lood de Jager, 3 Trevor Nyakane, 2 Jaco Visagie, 1 Pierre Schoeman.
Bank: 16 Edgar Marutlulle, 17 Jacobie Adriaanse, 18 Lizo Gqoboka, 19 Jason Jenkins, 20 Ruan Steenkamp, 21 Piet van Zyl, 22 Tian Schoeman, 23 Warrick Gelant.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.