Superrugby: Verswakte Chiefs klop Hurricanes, Reds gee Sunwolves pak

Met al sy tekortkominge het vanjaar se Superrugby-reeks se laaste ronde ligabepalings darem opwinding beloof.

Sewe spanne het reeds vir die uitspeelronde gekwalifiseer maar die agtste plek moet nog gevul word. Die onsekerheid oor wie teen wie in die kwarteindwedstryde sal speel bring verdere bespiegeling oor wat voorlê.

Boonop het van die afrigters ook individueel geoordeel watter spanne eintlik nie in die laaste ronde deur die uitslae geraak sou word nie en hul spanne dienooreenkomstig gekies om aan spelers ruskans te gee.

Dit het uiteraard nuwe geleenthede vir van die spanne teen verswakte teenstanders geskep en die permutasies van wie teen wie sal speel, vermeerder.

♦ Dit sou egter nie in Vrydag se wedstryd tussen die Chiefs en Hurricanes kon gebeur nie. Die Hurricanes, tweede van die Nieu-Seelandse groep en in algehele vierde plek, het geweet die vyfde-geplaaste Chiefs kan maar wen, solank dit nie met meer as 40 punte is nie.

Boonop het die Chiefs, benewens die rus wat aan ʼn paar spelers gegun is, kort voor die wedstryd hulle kaptein Charlie Ngatai en die slot Tyler Ardron ná onttrekkings verloor.

Dit het hulle nie van stryk gebring nie. Die Chiefs het op hulle tuisveld met 28-26 gewen nadat hulle die laaste 18 minute met net 14 man moes speel en met rustyd al 21-0 voor was.

Tussen die 50ste en 66ste minute het die Hurricanes drie keer gedruk en twee keer twee van die drieë verdoel (21-19), met die laaste wat ná die afstuur met ʼn rooi kaart van die Chiefs se Johnny Fa’auli gekom het.

Met tyd verstreke het die Chiefs ʼn drie letterlik aan die besoekers geskenk en daarmee as’ t ware getoon dat ʼn wedstryd se wen of verloor nie eintlik saak maak nie.

Dié twee spanne sal aanstaande naweek in die kwarteindronde in Wellington teen mekaar te staan kom.

♦  In Vrydag se ander wedstryd het die Reds in Brisbane met 47-28 teen die Sunwolves gewen. Daar is lekker met die bal gehardloop maar nie met ewe veel ywer verdedig nie.

Tien drieë is in die wedstryd gedruk, sewe deur die Reds en drie deur die Sunwolves.

Die twee spanne eindig onderskeidelik vierde (tweede laaste) en vyfde in die Australiese afdeling. Die Sunwolves is 15de en (weer) heel laaste op die algehele puntelys en die Reds 13de.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.