Superrugby: Wat is fout met die Lions?

Die Lions het Sondagmiddag die tweede keer vanjaar op Ellispark pak gekry en het nou hulle derde neerlaag in sewe wedstryde gely.

Hulle het Sondag heelwat meer as die Crusaders en ook veel beter as die afgelope weke verdedig; kwalik 40 persent van die bal gewen; selde kans gekry om hulle gewone hardlooprugby te speel en is verdiend met 14-8 deur verlede jaar se kampioenspan, die Crusaders, geklop.

Dit was hard en dit was taai, soos ʼn mens tussen verlede jaar se finaliste kon verwag, maar benewens die een drie wat die tuisspan in die eerste helfte gedruk het, het die Lions selde die doellyn van die Crusaders bedreig.

Trouens, al was die Lions rustyd met 5-0 voor, was daar tog die gevoel dat die Crusaders dié een sou wen.

Dit was ʼn foutbelaaide wedstryd, met swak opsies en omkeerbesit in algemene spel én by die afbreekpunte.

Die Lions het baie, baie selde die vryheid gehad om die bal verder as binnesenter te neem teen die goeie verdedigingstruktuur van die Crusaders, hoewel die Saders se verbroude duikslae hierdie goeie struktuur nie altyd ondersteun het nie.

Die wenspan, aan die ander kant, was twee keer oor die doellyn toe die TV-skeidsregter (tereg) beslis het dit was nie ʼn drie nie. Hulle het male sonder tal gedryf en met fasebesit die Lions gefrustreer, en hulle het ʼn paar keer meters van die lynstane af gedryf.

Daar is ook, veral in die tweede helfte, ʼn paar keer wyd gespeel waar die Lions wérklik moes keer.

Die Lions was in die skrums beter daaraan toe, en by die afbreekpunte was Malcolm Marx weer die groot meneer met die balle wat hy vertraag of uitgehaal het.

Die vraag is, ná hierdie derde neerlaag in vier wedstryde teen die Blues, die Jaguares en nou die Saders, en met die Sunwolves wat net met twee punte geklop is, hoe Swys de Bruin sake gaan omkeer.

Die Lions is weliswaar, veral ná Saterdag se neerlaag van die Stormers, boaan die Suid-Afrikaanse punteleer en tweede in die kompetisie as geheel (met ʼn wedstryd meer as die Rebels gespeel), maar dat daar êrens iets fout is, is gewis.

Puntemakers –

Leeus (5) 8: Drie: Madosh Tambwe. Strafdoel: Elton Jantjies.
Crusaders (0) 14: Drieë: Sam Whitelock, Jack Goodhue. Doelskoppe: Mitchell Hunt (2).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

rollie ·

Jy moet ten minste jou tuiswedstryde wen, dis al wat ek gaan sê.

Lion ·

Verander die nr 10 en dit sal beter gaan sy eggo het te groot geword

Michael ·

ek stem saam die lions se probleem le lank al by hulle no 10 hy skop nie sleg nie maar is nie n goeie los skakel nie en die houding !!!!!!!

Sparks ·

Swys kry 1groot slot 2 goeie flanke . 2groot goeie vleuels en n beter heelagter. Dan is die stadion weer vol.

Wesley ·

Kry die spelers waar Sparks? Vind dit snaaks almal wil die ouens vervang mar eintlik geen antwoord met wie… dis wie hul het en dit waarmee hul moet werk. Dieselfde spelers is wie hul laas jaar gekry het tot die finaal. Dink jy rerig daar beter as die in die Leeus se geledere?

LHS ·

Heelagter, goeie heelagter, Coetzee se statistiek wys hy is die vlugvoetigste speler om opponente te systap , sy werkverrigting is hoog, goeie aansluiting by agterlyn, baie goeie skopvoet, goed onder hoë bal, verdediging bevredigend………. meters veld gewen, baie hoog. Dankie bly maar net waar jy is. Daar is gelukkig siende mense ook.

Frans C ·

Die Crusaders is nie verniet die span wat die beker die meeste kere gewen het.Besluitneming was egter swak en het ‘n verbroude strafskop wat nie uit was tot ‘n teenaanval en drie gely.
Die Skeidsregter was soos die Lions by tye goed en ander kere swak.Die beslissing dat ‘n speler wat ‘n ander in die lug speel slegs ‘n strafskop werd was,is ‘n swak beslissing en het die oortreder heel verlig gelyk.Ek gaan nie Lions afkraak nie want die Crusaders as al hul beseerde spelers terug is,gaan bitter moeilik geklop word.

Swak plekke by die Lions,Lynstaanspel,dekverdediging wat by tye eina was en ‘n drie gekos het.’n Skakelpaar veral op losskakel wat met wilde aangeë die span onder druk geplaas het.Hopelik sal dit beter gaan as party beseerde spelers terugkeer.

Laat ons realisties wees-daar is geen span tans in Suid Afrika en Australie wat die beker kan wen nie soos hul tans speel nie,daarvoor is die gaping in spelpeil nog te groot.

Wesley ·

Met al die afkraak van Leeus spelers, veral op losskakel vir geen goeie rede (kamtig ego of watookal) glo ek hierdie is n goeie opsomming van Frans. Dis waar, besluitneming is hul grootste probleem. Gebrek aan leierskap? Losskakel speel beter met goeie leierskap op 8. Kyk maar gehalte van spel op die 8 9 10 kanaal wanneer Whiteley fiks is. Eerste wedstryde teen Sharks ens. was daar nie hierdie praatjies nie. Ek dink nie almal besef die impak van leierskap nie en glo net in groot impak voorspelers en flashy agterlyne. Rugby is defnitief meer as dit. Ek kan net hoop iemand in die span staan op as leier om daai groot groot gaping te vul…

Joe Hall ·

Afgesien van ‘n gebrek aan ‘n goeie heelagter, kranige skakelpaar, een goeie slot, ‘n agsteman en ‘n kaptein wat Whiteley se plek kan volstaan, is die Leeus se enigste probleem dat hulle te min punte het wanneer die eindfluitjie blaas.

Sparks ·

Koop hul het baie geld . Bestes het seer gekry of is weg. Hul diepte nie wonderlik nie.

Wesley ·

Soos die Bulle van ouds gewys het – koop koop koop is n dom plan. En dan later sit jy met n finansiele probleem ook nog boonop die bollie rugby wat jou span speel….

Phil ·

Toemaar, ek is seker die lions sal beter vaar wanneer hulle in Aus en NZ gaan speel.

Josua Keys ·

Die grootste probleem by die Leeus tans is dat Swys nie by hul span beplaning hou soos in die verlede nie, ek het met tye die afgelope paar jaar baie respek vir Johan Ackerman gekry die rede is dat hy baie selde span veranderinge voor die sestigste minut van n wedstryd gemaak het en dit het my soms briesend gemaak, min het ek besef die belangrikheid agter dit en dit is dat die ouens wat gekies is om op die veld te draf vir Sestig minute weet wat van hulle verwag word, die plaasvervangers moet net die wonde verder in vryf en die wedstryd verseel en dit het hulle baie goed reggekry maar nou is dit die teenoorgestelde . Swys ek hoop jy kry my boodskap want jy was deel van daardie beplanning, hoekom nou aan dit torring dit het vir drie jaar uitstekend gewerk nou mors julle dit op, ek glo dit is besig om die verantwoordelikheid van die spelers weg te neem want daar is teveel verandering te gou in die wedstryde gewees en het daartoe bygedra dat die wiele afgekom het, Swys kry die asb reg so gou moontlik, ek glo ook nie leierskp is n probleem nie die ouens speel eenvoudig een man rugby en dit gaan die leeus verder knak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.