Superrugby: Weer treurmare vir Sharks in Wellington

Argieffoto (Junie 2019)

Die spook van Wellington se sogenaamde koekblikstadion het Saterdag weer geloop.

Nadat die Sharks in 2018 hul Superrugby-wedstryd teen die Hurricanes met 37-38 verloor het nadat hulle kort voor die einde nog met 37-28 voor was, wou hulle ʼn herhaling voorkom.

Maar toe loop dinge Saterdag weer verkeerd, sommer baie verkeerd toe hulle dié keer met 38-22 geklop is nadat die rustydtelling 17-17 was.

Hoe is dit moontlik dat die Hurricanes weer 38 punte kon aanteken? Dit het Woensdag begin toe Curwin Bosch, die groot planmaker agterlangs, voor die kragmeting huis toe moes keer weens die afsterwe van iemand na aan hom. Kort voor die wedstryd is die Springbokvaskopstut Thomas du Toit onttrek en is die loskop Oxe Nche bank toe geskuif.

Die gevolg? Die Sharks het in die skrums gesukkel.

Ná net sowat 20 minute kon die Springbokvleuel Makazole Mapimpi (7de minuut) en die plaasvervanger-losskakel Boeta Chamberlain nie voortspeel nie omdat hulle nie hul harsingskuddingstoetse kon slaag nie.

Die plaasvervanger-skrumskakel Sanele Nohamba is losskakel toe geskuif en die senter Jeremy Ward moes noodgedwonge vleuel gaan speel.

Die Sharks se tande was agterlangs getrek en byna vanselfsprekend het dit hulle in foute gedwing, en tot verkeerde opsies en hanteerfoute gelei.

Boonop het die Sharks ses lynstane verloor en 21 keer besit afgestaan terwyl die skeidsregter Ben O’Keefe hulle male sonder tal in die eerste helfte gestraf het.

Die Sharks se frustrasie het (net soos dié van die vuiluil-Hurricanes) teen die einde oorgeborrel en het die spelers van albei kante na mekaar gemik, getik en kan hulle maar byna seker daarvan wees dat daar teen die sondebokke/sondaars opgetree gaan word.

Die Hurricanes het dus hul 14de opeenvolgende sege oor ʼn Suid-Afrikaanse span in die Superreeks tuis behaal, hoewel hulle glad nie na ʼn kampioenspan gelyk het nie, veral nie sonder Beauden Barrett en Ardie Savea nie.

Die Sharks sal ook moet leer dat dit ʼn waagstuk is om net twee agterlynplaasvervangers op die bank te hê, al het Rassie Erasmus en die Springbokke vir maande lank daarmee weggekom.

Maar ondanks die nederlaag, hoef die Sharks nie in sak en as te wees nie, want hoeveel keer slaan weerlig werklik op dieselfde plek?

Wel, twee keer in Wellington.

Puntemakers: Hurricanes 38 (17): Drieë: Ben Lam (2), Ngani Laumape, Wes Goosen, Dane Coles. Doelskoppe: Jordie Barrett (5). Strafdoel: Barrett.

Sharks 22 (22): Drieë:  Madosh Tambwe, Tyler Paul, Mzamo Majola. Doelskoppe: Boeta Chamberlain, Sanele Nohamba. Strafdoel: Nohamba.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.