Superrugby: Wie kan die Crusaders stuit?

Klinies en nogmaals klinies, met die een hand reeds op die trofee …

Rugby gaan oor beheerde besit en wanneer jy nie genoeg besit in die vaste fasette verower nie, kan jy dit maar amper op jou maag skryf om ʼn span soos die Crusaders tuis in ʼn uitspeelwedstryd te klop.

Dít het die Hurricanes, wat ongetwyfeld die gevaarlikste agterspelers in die Superreeks het, weer besef toe die Crusaders hulle met 30-12 in die halfeindstryd geklop het nadat die tuisspan rustyd met 18-7 voor was.

Die Crusaders, wat die reeks reeds agt keer gewen het en nou in 20 uitspeelwedstryde op hul tuisveld onoorwonne is, speel aanstaande Saterdag in hul 13de eindstryd wanneer hulle tuis óf teen die Lions óf die Waratahs te staan kom.

Die groot vraag is: hoe klop jy ʼn span wat die botoon in die skrums voer, al sy lynstane wen, net vier losskrums verloor, beter verdedig, verder met die bal vorder, minder strafskoppe afstaan en minder  hanteer- en ander foute begaan?

Ja, niks is seker in rugby onmoontlik nie, maar jy sal bo jou vermoë moet speel en hoop dat die Crusaders ʼn liederlike afdag het as jy wil wen.

Die Hurricanes het maar min ondernemingsgees gehad en was flou op die aanval omdat hul agterspelers agter die voordeellyn gewurg is.

Nie een van die brekers Beauden Barrett, Ngani Laumape of Jordie Barrett kon hul stempel behoorlik afdruk nie. Wanneer daar ook geskop is, was dit takties nie in die kol nie en só is kosbare besit weggegee.

Maar, soos in elke wedstryd wanneer jou voorspelers nie oorheers nie, sal dit maar sukkel-sukkel gaan.

Die Crusaders het immers sewe All Blacks in die beginspan gehad en het die toutjies getrek.

Sam Whitelock, Scott Barrett en Kieran Read was onverbeterlik in die lynstane; Matt Todd-hulle het die stryd om die losbal oorheers; en Owen Franks, Codie Taylor en Joe Moody was rotse in die skrum.

Kan die Lions, as hulle teen die Waratahs wen, die Crusaders klop?

Wel, hulle kon dit verlede jaar op Ellispark nie regkry nie.

Hoe gaan hulle dit ná ʼn lang vlug na Christchurch doen?

Puntemakers:

Crusaders (18) 30: Drieë: Richie Mo’unga, George Bridge, David Havili, Braydon Ennor. Doelskoppe:  Mo’unga (2). Stradoele: Mo’unga (2)
Hurricanes (7) 12: Drieë: Julian Savea, Ben Lam. Doelskop: Beauden Barrett.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Frans C ·

Die deurslaggewende oomblik in 2017 was die rooikaart wat Smith gekry het.Van die oomblik af was die uitslag beslis.Howel die Lions die Tahs met 18 punte geklop het sal dit ‘n reuse opskudding wees as hul die Crusaders op hul tuisveld klop.

Die Lions is uiters kwesbaar teen agterspelers wat toegelaat word om dwarsoor die veld
te hardloop om aansluiting by ander spelers te vind.Onder alle omstandighede en met
‘n afrigter oorsee wat sy ou span probeer leegmelk,is ‘n derde eindstryd nogtans ‘n merkwaardige vertoning.

Oudste ·

@Flojo: Miskien tweede in die reeks, maar EERSTE in die SA konferensie, wat gerieflikheidshalwe deur die ander SA franchises se ondersteuners ignoreer word. Smaak my die stiefkind sal altyd die stiefkind bly, maak nie saak of hy die ander gunstelinge in die familie oorskadu nie. Brul!

GM van Rooyen ·

Die Leeus het hul goed van hul taak gekwyt teen die Warathas, met so hier en daar swak beslissings en swak spel in die vaste fasette.
Maar teen die Crusaders in Christchurch?
In sport (weliswaar in die lewe ook) is daar ‘n uitdrukking: dit is nie onmoontlik nie, maar onwaarskynlik.

Niklaas ·

In my hart hoop ek die Lions wen. Maar dit sal een opskudding wees want dis bitter moeilik om daardie feitlik gehele All Black span te klop , nogal op hul tuisveld. Kom ons hoop maar vir die beste !

Juan ·

Lion ondersteuners kla en kerm graag dat hulle span nie die nodige respek kry wat hulle verdien nie, my raad aan hulle is eenvoudig – kry eers julle sogenaamde lojale ondersteuners by die wedstryde – wonder of daar 20,000 mense by semi was en eers dan as julle die voorbeeld gestel het sal die res van self volg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.