Superrugby: Wie nie waag nie, wen nie

Franco Mostert, ysterslot van die Lions flank toe geskuif. (Foto GB Jordaan)

Dit raak al hoe makliker vir rugbyafrigters om spelers buite hul gewone posisie te kies vanweë hul vaardighede en veelsydigheid, maar dit bly ʼn berekende waagstuk.

Swys de Bruin, die Lions se afrigter, het verras toe hy die Springbokslot Franco Mostert as flank in die plek van Kwagga Smith (menslikheidsverlof) gekies het vir Saterdag se Superrugbyderby teen die Bulls op Loftus Versfeld.

Baie Springbokafrigters (en keurders) het dit voor hom ook gedoen, noem hulle maar op: Ian McIntosh, Kitch Christie, Nick Mallett, Jake White, Peter de Villiers, Heyneke Meyer, Allister Coetzee en só kan ons aangaan.

Ook befaamde All Black-afrigters soos Graham Henry, John Hart en John Mitchell; en nou ploeg die Engelse afrigter, Eddie Jones, met die slot Courtnay Lawes as flank.

Baie keer word dit vanweë beserings uit noodweer gedoen, maar soms was dit ʼn waagstuk, wat geboemerang het.

Danie Craven het in sy 16 toetse die Springbokke op skrumskakel, heelagter, senter en agtsteman verteenwoordig, maar dit was in die dae toe spanne soms op die spanbus op pad veld toe aangekondig is en Craven uiters veelsydig en balvaardig was.

Wat van die veelsydige Brent Russell wat heelagter, vleuel, senter, losskakel en skrumskakel in sy 23 toetse gespeel, hoewel dit soms genoodsaak as plaasvervanger was?

Dave Stewart het destyds heelagter, senter en losskakel in toetse gespeel; en Danie Rossouw is met welslae as slot, flank en agtsteman ingespan. Daar is sekerlik nog baie ander gevalle, soms slaag dit, soms nie.

Dink maar aan die keuse van die Springbokslot Frik du Preez as flank in 1964 teen die Franse toe die Bokke met 8-6 geklop is.

Wat van die rondvallery in 1972, toe die Engelse die Bokke met 18-9 geklop het; toe Dawie Snyman losskakel gespeel het, Tonie Roux senter en Ray Carlson heelagter?

Wat van in 1974 toe Gerrie Sonnekus die keuse as skrumskakel in die plek van die beseerde Paul Bayvel se plek in die derde toets teen die Britse Leeus was, en die Bokke met 26-9 geklop is? Sonnekus is omstrede ingesluit bo erkende skrumskakels soos Gert Schutte en Barry Wolmarans, en moes tien jaar (tot in 1984 teen Engeland) wag voordat hy weer toetsrugby kon speel. Dié keer as agtsteman waar hy een van die Bokke se groot uitblinkers was.

Wat van Mallett wat ʼn flank op skrumskakel in ʼn toets vir Italië gekies het; wat van Hart wat straks die wêreld se beste heelagter, Christian Cullen, na senter geskuif het, en met ʼn rooi gesig gelaat is?

Soos Naas Botha altyd sê: ʼn Mens kies nie ʼn speler buite sy gewone posisie nie, want dis ʼn waagstuk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

leon ·

As groot Transvaal ondersteuner sal ek a.g.v. die beleid van die regering rakende grond nie die wedstryd bywoon nie. Dink ‘n lee stadion sal kragtige boodskap stuur.

Josua Keys ·

Swys weet wat hy doen, hy is ‘n afrigter wat spelers se vaardighede ken, ek self as ek in sy skoene was, sou bv Kwagga op agtste man gebruik het omdat hy kort is nader aan die grond en vinniger die bal kan skoon maak het krag en spoed daarby en is moeilik om te stop veral oor kort afstande en dit plaas jou span dadelik op die voorvoet want hy gaan oor die voordeellyn en dit is belangrik, Warren kan maklik op flank of selfs slot inskakel die punt is jy moet ‘n speller se vaardighede kan lees en dit is wat ons afrigters heeltemal ‘n tekort aan het en dit is juis hier waar hulle hul vingers verbrand het om spelers uit posisie te speel. Ek dink dit is ‘n uitstekende geleentheid om Franco weer op standard te kry wat sy spoed en aanval aanbetrek want die afgelope twee wedstryde was dit bietjie afgewater. Hy sal net so goed op agsteman inskakel ook.

alwyn burger ·

Enige “voetballer” kan sonder moeite in ander posisies inskakel.
ñ “voetballer” benodig ook nie ñ verdedigings , fiksheid , skop of ander afrigters nodig nie . As hy dit op Springbokvlak benodig is hy nie ñ Springbok nie??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.