Superrugby: Wie van Mitch, Swys of Fleckie gaan blaf?

John Mitchell, Swys de Bruin of Robbie Fleck?

Wie is die beste Suid-Afrikaanse afrigter in die Superreeks? Wie se praatjies sal net praatjies bly en sal druipstert verskonings moet soek as hulle Saterdag verloor?

Die Bulls meet op Loftus Versfeld met die Hurricanes kragte, die Lions pak die Jaguares op Ellispark en die Stormers sal kort duskant die etensuur teen die Waratahs in Sydney speel.

Die Sharks se Robert du Preez  het reeds verlede naweek op Ellispark sy vingers effe verbrand toe sy span teen die Lions verloor het en het dié naweek ʼn loslootjie.

Op die oog af het Mitchell en die Bulls die moeilikste taak, die Lions die maklikste en niemand weet wat om van die Stormers of die Waratahs te verwag nie.

Daar is baie hoë verwagtinge in Pretoria om voort te bou op die glorieryke jare toe die Bulls die reeks in 2007, 2009 en weer in 2010 gewen het.

Die spelers het ingekoop in Mitchell se innoverende denke en spelpatroon; hulle loof hom as die beste afrigter onder wie se hande hulle nog deurgeloop het (het hulle só gou van Heyneke Meyer en Frans Ludeke se goue jare vergeet?); hulle wil ook teen ʼn hoë tempo speel en die bal vir 80 minute rondskuif.

Hopelik het hulle nie van die basiese beginsels van die spel, soos verdediging, vergeet nie, want hulle speel teen ʼn span wat dieselfde denkrigting en patroon volg, maar reeds in hul loopbane Supersukses geproe het.

Kan die Bulls wen? Ja, want die Loftusfaktor is aan hulle kant, veral in daardie laaste 20 minute wanneer die longe begin brand, die foute begin inkruip en die hande en voete nie meer wil saamwerk nie.

♦  Die Jaguares is een van die spanne teen wie die Lions al voorheen vasgeval het. Miskien was dit omdat  die Lions se spelers gerus het, dalk die Argentyne onderskat het, of dalk hul oë op die volgende wedstryd gehad het.

Maklik sal dit nie Saterdag wees nie, want die Jaguares is soos daardie lastige skoothondjie wat bly blaf en jou aan die enkels hap.

De Bruin het baie gou uit die skaduwee van Johan Ackermann beweeg en die Lions bou daarop voort. De Bruin het hom reeds as ʼn begaafde afrigter bewys en het reeds borrelende talent ontdek wat nou ontgin word.

♦  Die Stormers spring jaarliks soos ʼn resiesperd weg, maar kan dit nie volhou nie. Dalk is dit vanjaar hul jaar (net soos verlede jaar en die vorige jaar), want Fleck-hulle (selfs die Kaapse pers) was tot dusver bra beskeie.

Hulle kom teen nog ʼn onderpresteerder, die Waratahs, te staan en dis ʼn geval van ses van die een en ses van die ander. Vir die wenspan is daar Superhoop, vir die verloorspan kan dit ʼn baie lang seisoen wees.

♦  Diegene wat nie veel te doen het nie, kan vroeg Saterdagoggend die televisie aanskakel wanneer die Sunwolves en Brumbies in Tokio mekaar pak.

Dit word gevolg deur die ander hoogtepunt van die naweek, wanneer die Crusaders teen die Chiefs in Christchurch speel.

Ná Vrydagoggend se wedstryd tussen die Highlanders en Blues in Dunedin (die Highlanders het met 41-34 gewen) kan hierdie vroeë wedstryde albei ʼn drieëfees wees.

Dit behoort die regte aansporing vir Mitchell, De Bruin en Fleck te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

rollie ·

Die Stormers het ongetwyfeld die moeilikste taak want hulle speel oorsee. Al ons spanne sukkel oorsee.

Flip ·

Tipies, soek die stormers al klaar n verskoning om teen die flou waratahs te gaan verloor…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.