Superrugbykwarteind: wie’s nou vet?

Onthou julle nog?

Dit sal nie baie moeilik wees om die Hurricanes op te sweep vir Vrydag se kragmeting in die kwarteindronde van die Superrugbyreeks teen die Brumbies in Canberra nie.

Draai maar net die horlosie terug ná 26 Februarie verlede jaar toe die Brumbies ook in Canberra teen die Hurricanes gespeel het, en met 52-10 gewen het.

Dit was aan die begin van die seisoen en die Hurricanes se kondisionering het veel te wense oorgelaat.

“Vetties,” het die Brumbies gesê toe hulle die Hurricanes die soveelste keer in ʼn skrum weggedruk het.

Dit was waar woorde wat baie seergemaak het. Ek ken die hulpafrigter John Plumtree van sy speeldae vir Natal in Durban in die negentigerjare af. Hy het ʼn geheue soos ʼn olifant en sou dié opmerkings in sy geheuebank gebêre het.

Dit het verlede jaar al gebeur toe die Hurricanes hul volgende wedstryd met 16-17 teen die Highlanders verloor en toe met 23-19 teen die Blues deurgeskraap het.

Maar namate die seisoen gevorder het, die Hurricanes die vetrolletjies afgeskud en fikser geraak het, het hulle ʼn metamorfose ondergaan om aan die einde van die reeks as kampioen gekroon te word toe hulle die Lions met 20-3 in die eindstryd in Wellington geklop het.

Nou is die skoen aan die ander voet. Die Hurricanes het vanjaar 12 van hul 15 wedstryde gewen, en 596 punte aangeteken wat 89 drieë (teen Nieu-Seelandse en Suid-Afrikaanse teenstanders) insluit. Die Brumbies kon net ses van hul 15 wedstryde wen, het nie een Nieu-Seelandse span geklop nie, net 315 punte aangeteken (36 drieë) en het agtste op die algehele puntelys geëindig.

Maar met die snaakse stelsel het hulle bo-aan die Australiese afdeling geëindig vir ʼn tuiskwarteind.

Vetties? Kom ons kyk wie lag Vrydag die lekkerste.

Spanne –

Brumbies

15 Tom Banks, 14 Henry Speight, 13 Tevita Kuridrani, 12 Andrew Smith, 11 James Dargaville, 10 Wharenui Hawera, 9 Joe Powell, 8 Jordan Smiler, 7 Chris Alcock, 6 Scott Fardy, 5 Sam Carter (kapt.), 4 Rory Arnold, 3 Allan Ala’alatoa, 2 Josh Mann-Rea, 1 Scott Sio. Bank: 16 Robbie Abel, 17 Ben Alexander, 18 Les Leulua’iali’i-Makin, 19 Blake Enever, 20 Jarrad Butler, 21 Tomas Cubelli, 22 Jordan Jackson-Hope, 23 Christian Leali’ifano.

Hurricanes

15 Nehe Milner-Skudder, 14 Wes Goosen, 13 Jordie Barrett, 12 Ngani Laumape, 11 Julian Savea, 10 Beauden Barrett, 9 Thomas Perenara (kapt.), 8 Brad Shields, 7 Ardie Savea, 6 Vaea Fifita, 5 Sam Lousi, 4 Mark Abbott, 3 Jeff To’omaga-Allen, 2 Ricky Riccitelli, 1 Ben May. Bank: 16 Dane Coles, 17 Chris Eves, 18 Loni Uhila, 19 Reed Prinsep, 20 Callum Gibbins, 21 Te Toiroa Tahuriorangi, 22 Otere Black, 23 Cory Jane.

Afskop: 11:35 (SA tyd).
Verwagte weer: Koel met ʼn ligte windjie.
Skeidsregter: Glen Jackson (Nieu-Seeland).
Assistent-skeidsregters: Nic Berry en William Houston (albei Australië).
TV-skeidsregter: Ian Smith (Australië).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

Brumbies teen Hurricanes is ‘n redlike maklike keuse.Die ander kwart eind wedstryde is egter nie so maklik nie. Beide die Sharks en Highlanders kan vir verassings sorg deur onderskeidelik die nommer1 span ,die Lions en nommer 2 span Crusaders uit te skakel.

Hopelik kan die Stormers hul vorige oorwinning teen die Chiefs behaal.My keuse vir die naweek,Hurricanes,Crusaders,Lions,Chiefs,maar maklik sal dit nie gaan nie.

Nico K ·

Ek stem saam met Frans C. My voorspelling oor wie gaan wen is dieselfde, met net die Hurricanes waarop ek sal geld sit. Die ander drie kan verrassings oplewer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.