Superspanne verloor meer spelers as wat hulle bykry

Is dit die geldnood wat knyp, of maak die vier Suid-Afrikaanse Super-franchise’e staat op hulle jong spelers wat in die loop van 2017 tot Superrugbyvlak ontwikkel het?

Dit sal maar gesien moet word, maar gegrond op die beskikbare aanwinste, beëindiging van kontrakte en die lokgeld van oorsee af, is dit opvallend dat al vier die Suid-Afrikaanse franchise’e meer spelers verloor as bygekry het vir 2018 se nuwe Super15-reeks.

Natuurlik beteken dit nie dat al die nuwe gesigte in ʼn betrokke franchise se uiteindelike Supergroep sal wees nie, maar daar is enersyds taamlik mildelik deur die franchise’e gesny. In heelwat gevalle het van die spelers self oorsee groener weivelde gevind.

Só lyk dit by die vier SA franchise’e  –

Bulls (11 vertrek, 6 aanwinste)

By die Bulls is die vernaamste verliese natuurlik die twee Bokke Jan Serfontein (Montpellier) en Piet van Zyl (eers uitgetree, maar dit blyk nou dat hy by London Irish gaan speel).

Nog ʼn Springbok, Arno Botha, se knaende kniebeserings is ʼn hartseerstorie wat die land van een van sy belowendste losvoorspelers ontneem het. Sy kontrak is nie hernieu nie.

Tim Agaba van die Blitsbokke gaan gewis ʼn man wees om aanstaande jaar as flank dop te hou.

Lions (7 vertrek, 2 aanwinste)

Die Lions het net vir Christiaan Meyer (Griekwas) en Khwezi Mona (Pumas) bygekry, maar groot name soos Ruan Ackermann, Faf de Klerk en ook ervare manne soos Akker van der Merwe (Sharks), Jacques Nel (Kings)  en Jaco van der Walt uit hul Superrugby-groep verloor.

Jaco Kriel sal volgens oorsese media nog in die 2018-seisoen by die Lions wees waarna hy ook op pad is na Johan  Ackermann se Gloucester.

Grootste verlies? Ruan Ackermann.

Sharks (12 vertrek, 9 aanwinste) –

Robert du Preez en Dick Muir, wat hom aanstaande jaar by die Sharks sal bystaan, het benewens die uitstekende huidige vleuel Kobus van Wyk nou ook vir Makazole Mapimpi en Leolin Zas – wat heeljaar beseer was – gelok.

Die nuwe Springbok Louis Schreuder, wat vanjaar Curriebekerrugby vir die Sharks gespeel het, sal nou ook op Supervlak vir hulle uitdraf en nóg ʼn ervare skrumskakel Cameron Wright kom terug van Montpellier af.

Met die kanniedood oud-Bok Michael Claassens nog daar het die KwaZulu-Natallers lekker diepte op skrumskakel.

Vyf Springbokke sal nie in 2018 weer vir die Sharks se Superspan beskikbaar wees nie: Pat Lambie, wat klaarblyklik die reeks hardsingskudding-beserings afgeskud het wat oor baie jare sy rugby gekortwiek het; en Cobus Reinach, Lourens Adriaanse, Odwa Ndungane en Jean Deysel.

Die Sharks verloor ook vir S’bura Sithole wat glo Kings toe skuif.

Die grootste verlies? Moontlik die slot Etienne Oosthuizen en Sithole.

Stormers (12 vertrek, 5 aanwinste) –

Die Stormers, wat die vleuel Leolin Zas verloor, kry vir Sergeal Petersen en die twee Springbokke Raymond Rhule en JJ Engelbrecht by, met laasgenoemde wat klaarblyklik vleuel sal speel – sy beste posisie, volgens baie kenners.

Hulle verloor natuurlik die drie losskakels Robert du Preez (Sharks), Kurt Coleman (Kings) en Brandon Thomson (Glasgow) wat al drie vroeg vanjaar in die Superreeks gespeel het. Laasgenoemde twee wat reeds vanjaar vanaf die WP/Stormers na onderskeidelik die Kings en Glasgow geskuif.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Kontinuïteit. Dit was nogal altyd die doodsteek van Suid Afrika se Superrugbyspanne.
Waar spanne suksesvol was was daar altyd ‘n goeie kern van ervare spelers waarmee sukses behaal is.
Die verhaal van Suid Afrika se Super rugbyspanne was meesal ‘koop ‘n span’ omdat Provinsialisme nog altyd ‘n doodsteek vir sukses was. Dit help nie om een span ten koste van ‘n ander te versterk nie,want een of twee sterk spanne maak nie ‘n sterk nasionale span nie.

NZ is suksesvol want hul spanne eindig gewoonlik on die top ses en is die verskil in ligapunte
nie so groot tussen hulle as wat gewoonlik die geval is met Suid Afrikaanse spanne.Om suksesvol te wees moet daar streekspanne wees van min of meer gelyke sterkte,waar geen uitslag gegewe is nie.

Die ‘koop ‘n span’ werk nie op internasionale vlak nie,want gekoopte spelers is altyd op soek na beter vergoeding veral waar die Rand ‘n swak geldeenheid is gemeet teen ander geldeenhede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.