SuperSport-eindstryd kan kookpunt bereik

Dis ook maar goed die Weerdiens voorspel redelik gematigde weerstoestande vir Sondag se SuperSport-eindstryd in Oudtshoorn, want op die veld kan sake kookpunt bereik.

Die Pumas, tot dusver vanjaar onoorwonne, en verlede jaar se naaswenner, Griekwas, pak mekaar kort ná middagete op die Bridgton-sportterein in dié Karoodorp.

Hulle speel uiteenlopende rugby. Die Pumas maak sterker op hul aggttal staat. Griekwas verkies vyftienmanrugby.

Dit kan ʼn genadelose fisieke stryd oplewer, maar sal boweal ook skerp koprugby verg.

Die twee spanne het die afgelope drie jaar net ses keer kragte gemeet, twee keer in die verskillende tweedevlakreekse, en drie keer om die Curriebeker.

Griekwas het vier keer gewen en die Pumas twee keer.

Dit tel nie Sondag nie.

Griekwas het die vergelykbare eertydse Vodacomreeks vyf keer gewen – in 1998, 2005, 2007, 2009 en 2014. Die Pumas kon dit net in 2015 regkry.

Dit geld Sondag nóg minder.

Albei spanne se dissipline sal onbesproke moet wees. Nòg die Pumas se Chris Smith (die reeks se voorste puntemaker), nòg Griekwas se George Whitehead se skopvoet kan geïgnoreer word.

Die Pumas beskik oor ʼn puik afronder soos Ruwellyn Isbell, wat, met nege, die derde meeste drieë in vanjaar se reeks gedruk het.

Ongelukkig vir Griekwas is Enver Brandt – wat, met elf, boaan die driedruklys staan – sedert begin Junie met ʼn enkelbesering buite aksie.

Alles in aggenome, behoort die Pumas met ʼn kortkop die gunsteling te wees om in Oudtshoorn te wen.

Om Griekwas sonder meer buite rekening te wil laat, sal egter flagrant onverantwoordelik wees.

Dalk pas die droë klimaat en harde veld hulle beter.

Die Weerdiens voorspel ʼn maksimum temperatuur van 24°, dalk ʼn wolkie of wat, en ʼn ligte bries.

Die wedstryd begin om 14:30 op die Bridgton-sportterrein, en word op SuperSport 1 en 10 gebeeldsaai.

Die spanne –

Pumas

15 Devon Williams, 14 Morné Joubert, 13 Hennie Skorbinski (kaptein), 12 Henko Marais, 11 Ruwellyn Isbell, 10 Chris Smith, 9 Stefan Ungerer, 8 Willie Engelbrecht, 7 Stefan Willemse, 6 Jeandré Rudolph, 5 Cameron Lindsay, 4 Le Roux Roets, 3 Marné Coetzee, 2 Marko Janse van Rensburg, 1 De-Jay Terblanché. Bank: 16 Frankie Herne, 17 Simon Westraadt, 18 Hugo Kloppers, 19 Hilton Lobberts, 20 Reynier van Rooyen, 21 Justin van Staden, 22 Trompie Pretorius.

Griekwas

15 AJ Coetzen (onderkaptein), 14 Ederies Arendse, 13 Christopher Bosch, 12 Jonathan Francke, 11 Kyle Steyn, 10 George Whitehead, 9 Christiaan Meyer, 8 Conway Pretorius, 7 Sias Koen, 6 De Wet Kruger, 5 Pieter van Vuren (kaptein), 4 Sintu Manjezi, 3 Nicolaas Oosthuizen, 2 Khwezi Mkhafu, 1 Devon Marthinus. Bank: 16 AJ le Roux, 17 Liam Hendricks, 18 Ruan Kramer, 19 FP Pelser, 20 Damian Stevens, 21 Jonathan Janse van Rensburg, 22 André Swarts.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.