Supersport: omkeertellings in drie wedstryde

In drie gevalle was die rustydvoorloper die verloorspan in die jongse weekronde van die Supersportreeks, met sterk terugvegpogings wat vir ʼn opflikkering in die reeks gesorg het.

Grens, wat vanweë geldprobleme byna nie aan die reeks deelgeneem het nie, het in Oos-Londen vir die naweek se grootste verrassing gesorg deur Boland met 29-14 op sy plek te sit.

Die besoekers, wat die eerste kragmeting tussen die twee spanne met 51-24 oorheers het, was rustyd met 14-8 voor.

Die verdedigende kampioen, die Westelike Provinsie, was rustyd in Port Elizabeth met 18-21 agter, maar het die bordjies in die tweede helfte verhang om die Oostelike Provinsie met 75-28 onder stof te loop.

Op die Luiperds se nuwe tuiste, die Fanie du Toit-stadion in Potchefstroom het die vyftiental sy ondersteuners se hoop op die aanbreek van ʼn nuwe era laat opvlam toe hy rustyd met 24-15 voorgeloop het. Griekwas het egter in die tweede helfte beheer oor die wedstryd geneem en uiteindelik met 46-31 gewen.

Die Griekwavleuel Enver Brand se vierkuns rek sy aantal drieë in vanjaar se reeks tot 11.

In Bloemfontein moes die Vrystaat-vyftiental, wat rustyd met 26-0 voor was, toekyk hoe die Griffons die toon in die tweede helfte aangee. Die tuisspan se sege is uiteindelik tot 33-19 beperk.

Die Pumas het in Pretoria nooit juis anders as die botoon gevoer nie, en die Blou Bulle met 34-22 getroef (rustyd 20-5) om hulle steeds stewiger boaan die Noorderafdeling in te grawe.

Die Welwitschias het hul eerste sege vanjaar behaal deur die Valke in Kempton Park met 34-24 te verslaan (rustyd 13-10). Die Valke het die eerste botsing in Windhoek met 39-7 gewen.

Die puntemakers –

Grens 29 (8) – Drieë: Soso Mantyoyi, Sipho Nofomele, Sinovuyo Nyoka, Somila Jho. Doelskoppe: Bangi Kobese (3). Skepdoel: Aphiwe Stemele.
Boland 14 (14) – Drieë: Francois Esterhuizen, Jacquin Jansen. Doelskoppe: Elgar Watts (2).

OP 28 (21) – Drieë: Reuben de Vos, JP Smith, Bakkies Brown, Dewald Barnard. Doelskoppe: Reuben de Vos (4).
WP 75 (18) – Drieë: Chris Massyn, Grant Hermanus, Edwil van der Merwe, Dan du Plessis (2), Luke Stringer, Steph de Witt, Johan du Toit, Tristan Leyds, Chad Solomons, Duncan Saal. Doelskoppe: Josh Stander (6), Tristan Leyds (4).

Luiperds 31 (24) – Drieë: Joe Smith, Louis van der Westhuizen, Evardi Boshoff, Justin Newman. Doelskoppe: Schalk Hugo (4). Strafdoel: Schalk Hugo.
Griekwas 46 (15) – Drieë: Christiaan Meyer, Enver Brandt (4), Kyle Steyn, FP Pelser. Doelskoppe: André Swarts (2), George Whitehead (2). Strafdoel: André Swarts.

Vrystaat 33 (26) – Drieë: Erich de Jager, Neill Jordaan, Jasper Wiese (2), strafdrie (7 punte). Doelskoppe: Erns Stapelberg (2).
Griffons 19 (0) – Drieë: Jaun Kotzé, Rodney Damons, Danie van der Merwe. Doelskoppe: Jaun Kotzé (2).

Blou Bulle 22 (5) – Drieë: Edgar Marutlulle, JT Jackson, Jamba Ulengo, Jaco Bezuidenhout; Doelskop: Earll Douwrie.
Pumas 34 (20) – Drieë: Marko Janse van Rensburg, Jerome Pretorius, Ruwellyn Isbell (2). Doelskoppe: Chris Smith (3), Justin van Staden. Strafdoele: Chris Smith (2).

Valke 24 (10) – Nie beskikbaar nie.
Welwitschias 34 (13) – Nie beskikbaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.