SuperSport-reeks: Waar is Noord-Suid dan nou?

Te oordeel aan die halfeindronde van die SuperSport-reeks sal ʼn mens wil glo dat die magsewewig in Suid-Afrikaanse rugby na die Sentraalstreek verskuif het.

Drie van die vier spanne (die Sharks-vyftiental, Griekwas en die Vrystaat-vyftiental) is uit dié streek, en een (die Pumas) uit die Noordstreek.

Van die tradisionele Noord-Suid-toutrekkery is daar geen sprake nie.

Die Westelike Provinsie, die Goue Leeus en die Blou Bulle is glad nie in die prentjie nie.

Op die ou end is die “skuif” bloot oëverblindery. Rassie Erasmus gaan nie nou skielik Nelspruit, Bloemfontein en Kimberley toe jaag om Springbokke te kontrakteer nie.

Dis dalk eerder ʼn bevestiging dat die Superrugby-franchise’e nie die geld het om die diepte te koop wat ook op hierdie vlak kan oorheers nie.

Dit bied diegene wat normaalweg in die grotes se skadu speel, ʼn eie plekkie in die son.

Nietemin, Vrydag en Saterdag se wedstryde behoort in eie reg genoeg spanning op te lewer om die toeskouers en kykers waarde vir geld te bied.

Die kans is goed dat, wie ook al van die Pumas en die Sharks op Nelspruit wen, uiteindelik die SuperSport-beker omhoog sal hou.

Om dié rede kan ʼn mens te wagte wees dat dié twee die tande in mekaar sal inslaan soos selde gebeur.

Naas die Transjukskei-derby tussen die Goue Leeus en die Blou Bulle – wat eintlik besig is om sy glans te verloor – is die kragmetings tussen die buurspanne Griekwas en die Vrystaat sonder twyfel die juweel in hierdie opsig.

Dit sal ʼn baie groot verrassing (en teleurstelling) wees as die kragmeting enigiets anders as ʼn riller oplewer.

Dis die derde keer in vanjaar se reeks dat die spanne kragte meet, en die eerste keer dat Griekwas die tuisveldvoordeel geniet.

Vrystaat het die wedstryd op Rustenburg met 32-31 gewen. Griekwas het op sy beurt die Vrystaat op sy tuiswerf met 27-19 gaan klop.

Nie dat tuisveldvoordeel Vrydag en Saterdagte hoog aangeslaan moet word nie.

Dit sal ʼn baie dapper wedder wees wat groot geld op enige van die twee wedstryde sal waag.

Die bepalings –

Vrydag

19:00 Pumas teen Sharks, Mbombela-stadion, Nelspruit.

Saterdag

13:00 Griekwas teen Vrystaat, Griekwapark, Kimberley.

Die spanne –

Pumas
15 Justin van Staden, 14 Morné Joubert, 13 Hennie Skorbinski (kaptein), 12 Henko Marais, 11 Ruwellyn Isbel, 10 Chris Smith, 9 Stefan Ungerer,8 Willie Engelbrecht, 7 Stefan Willemse, 6 Jeandré Rudolph, 5 Cameron Lindsay, 4 Le Roux Roets, 3 Marné Coetzee, 2 Marko Janse van Rensburg, 1 Simon Westraadt. Bank: 16 Frankie Herne, 17 De-Jay Terblanche, 18 Hugo Kloppers, 19 Brian Shabangu, 20 Reynier van Rooyen, 21 Trompie Pretorius, 22 Devon Williams.

Sharks

15 Courtnay Winnaar, 14 Aphelele Fassi, 13 Jerremy Ward, 12 Johan Deysel, 11 Makazole Mapimpi, 10 Garth April, 9 Grant Williams, 8 Tera Mtembu (kaptein), 7 Kwanda Dimaza, 6 Cornelius Otto, 5 Andrew Evans, 4 Gideon Koegelenberg, 3 Ross Geldenhuys, 2 Franco Marais, 1 Mzamo Majola. Bank: 16 Kerron van Vuuren, 17 Kyle Whyte, 18 Khutha Mchunu, 19 Rikus Zwart, 20 Francois de Villiers, 21 Danrich Visagie, 22 Tristan Blewett.

Griekwas

15 AJ Coertzen (onderkaptein), 14 Ederies Arendse, 13 Christopher Bosch, 12 Johnathan Francke, 11 Kyle Steyn, 10 George Whitehead, 9 Christiaan Meyer, 8 Conway Pretorius, 7 Sias Koen, 6 De Wet Kruger, 5 Pieter van Vuren (kaptein), 4 Sintu Manjezi, 3 NJ Oosthuizen, 2 Khwezi Mkhafu, 1 Devon Martinus. Bank: 16 AJ le Roux, 17Liam Hendricks, 18 Ruan Kramer, 19 FP Pelser, 20 Damian Stevens, 21 Jonathan Janse van Rensburg (losvoorspeler), 22 André Swarts.

Vrystaat

15 Darren Adonis, 14 Francois Agenbach, 13 Benhard Janse van Rensburg, 12 Carel Jan Coetzee, 11 Vuyani Maqina, 10 Ernst Stapelberg, 9 Rudy Paige, 8 Jasper Wiese, 7 Gerhard Olivier, 6 Neill Jordaan (kaptein), 5 Dennis Visser, 4 Sibabalo Qoma, 3 Gunter Janse van Vuuren, 2 Reinach Venter, 1 Boan Venter. Bank: 16 Joseph Dweba,17 Luan de Bruin, 18 Stephan Malan, 19 Justin Basson, 20 Ntokozo Vidima, 21 Ruan van Rensburg, 22 Sango Xamlashe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.