Supersport-stryde tussen katte laat lippe aflek

Vrydag se kragmetings in die plaaslike SuperSportreeks tussen allerhande vertakkings van die katfamilie laat ondersteuners by voorbaat die lippe aflek.

Die stryd om die booste sport van die Noorderafdeling se punteleer op Ellispark tussen die Goue Leeus en die Pumas beloof uiters mededingend te wees.

Die tuisspan is tans derde op die punteleer, soos hul ondersteuners graag sal wil glo, bloot omdat hulle ʼn wedstryd minder as die res gespeel het.

Die Pumas is bo-aan die punteleer en het op pad daarheen twee keer met die Blou Bulle klaargespeel. Hulle behoort die selfvertroue te hê om ʼn bedreiging vir ʼn onbedagte Leeuspan in te hou.

♦ In Bloemfontein spring die Cheetahs se Vrystaat-vyftiental en die Luiperds aanmekaar, met die tweede plek in die Sentrale Afdeling die prys.

Die Luiperds was lank die onoorwonne voorloper, maar is in hul vorige twee wedstryde sleg gekwes, en sal moet begin terugveg as hulle ʼn faktor in die reeks wil bly. Dieselfde geld vir die Vrystaat wat op sý beurt swak weggespring het.

Die vorige wedstryd tussen die twee spanne het redelik gelykop verloop, en die Luiperds het uiteindelik met 37-32 gewen.

♦ Saterdag se wedstryd tussen die Sharks-vyftiental en die Griffons in Clermont, Durban, en Sondag s’n tussen die OP Kings en die Suidwestelike Distrikte in Mdantsane kan albei strawwe kragmetings oplewer, maar dit gaan bloot om die plek van agteros in hul onderskeie afdelings te ontkom.

♦ Met Namibië se nasionale span op pad na Wêreldrugby se toernooi om die Nasiesbeker in Uruguay, is die Welwitschia-span wat die Blou Bulle Saterdag op die Hoërskool Garsfontein se veld pak, aansienlik swakker as die een wat die Valke se vlerke verlede week geknip het.

Hoe mededingend die span sal wees, sal afhang van hoe gretig die nuwelinge hul kans in groter geselskap aangryp.

♦ Die Westelike Provinsie speel Sondag in Mdantsane teen die Grens, en dit sal grootliks verbaas as die tuisspan die Suiderafdeling se onoorwonne voorloper kan hokslaan.

Afskoptye –

Vrydag

14:00 Goue Leeus-vyftiental teen Pumas (Ellispark)

15:00 Vrystaat-vyftiental teen Luiperds-vyftiental (Vrystaatstadion)

Saterdag

13:30 Blou Bulle teen Welwitschias (Hoërskool Garsfontein)

15:00 Sharks-vyftiental teen Griffons (Sugar Ray Xulu-stadion, Clermont)

Sondag

13:00 OP Kings teen SWD (Sisa Dukashe-stadion, Mdantsane)

15:00 Grens teen WP (Sisa Dukashe-stadion, Mdantsane)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fires ·

Wonder wat die Bulle se verskoning gaan wees na die verloor

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.