Supersportreeks fokus op Kimberley

Die naweek se fokuswedstryd in die Supersportreeks is ongetwyfeld die kragmeting Vrydag in Kimberley tussen Griekwas en die Vrystaat-vyftiental.

Dis een van die oudste provinsiale derbies in die land – die twee buurbonde het in 1893 die eerste keer kragte gemeet – en is steeds een van die felste.

Die tuisspan is boaan die Sentrale punteleer en die Vrystaters tweede. Dit sal nie wys wees om te veel op ʼn wenner te verwed nie.

Die ander wedstryd in dié streek is ook van deurslaggewende belang.

Die Luiperds en die Sharks-vyftiental sê mekaar op Olënpark, Potchefstroom, die stryd aan, en die een wat verloor, is waarskynlik uit die wedloop.

ʼn Verrassende eersterondesege deur die Sharks teen die destyds onoorwonne en eerste geplaaste Luiperds, het ʼn sukkelfase vir die Noordwesters ingelui. Hulle het gewis ʼn appeltjie met die besoeker te skil.

Die Suidwestelike Distrikte het nog nie vanjaar in die Suide gewen nie, en of die tuisveldvoordeel op Outeniekwapark, George, Vrydag ʼn verskil sal maak, moet eers gesien word.

Die oonoorwonne Westelike Provinsie behoort nie op die Helderberg-rugbyklub se Charles Morkelstadion in die Strand te sukkel om Boland onder te sit nie.

In die Noorderafdeling is die Blou Bulle die gunsteling Vrydag teen die Valke in die Barnardstadion op Kemptonpark; en die verswakte Welwitschias sal Saterdag in Windoek hul keer moet ken om ʼn tweede honderdtal teen die Goue Leeus-vyftiental af te weer.

Die afskoptye –

Vrydag

15:00 Valke teen Blou Bulle, Barnardstadion, Kemptonpark
19:00 SWD teen Grens, Outeniekwapark, George
19:00 Griekwas teen Vrystaat-vyftiental, Kimberley

Saterdag

15:00 WP teen Boland, Helderberg-rugbyklub, Charles Morkelstadion, Strand
15:00 Luiperds teen Sharks-vyftiental, Olënpark, Potchefstroom
16:00 Welwitschias teen Goue Leeus-vyftiental, Windhoek

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.