Supersportreeks: Leeus sal moet uithaal teen Pumas

ʼn Goeie nuwe afrigter, daarmee saam ʼn hele paar nuwe gesigte en ʼn oorwinning oor die Blou Bulle in die eerste ronde maak die Pumas ʼn span wat Saterdag in die Kanyamazane-stadion buite  Nelspruit nie deur die Goue Leeus  liggekyk moet word nie.

Dit is die Leeus se eerste wedstryd in die Supersportreeks wat verlede week afgeskop het.

Die Pumas sal die diepte van die Lions, met sy 27 spelers wat in Australië is en ʼn hele paar wat op die krukkelys is, deeglik beproef. Die Pumas het ook die voordeel dat hulle reeds ʼn taai wedstryd agter die blad het terwyl die Leeus se wedstryde tot oefenwedstryde beperk was waar vasbyt en uithaal nie die vereistes was nie.

Die Pumas se afrigter, Brent Janse van Rensburg sê daar sal van sy span verwag word om ekstra moeite te doen om die Leeus se bal-in-hand-benadering teen te werk.

Hy wil graag sien dat sy span meer op die aanval uitblink as teen die Bulle waar hulle uitstekende verdediging hulle deur die drif getrek het.

Manne soos dié sal dit wel vir die Leeus moeilik maak: Sias Ebersohn, die ervare Cheetahs- en Force-losskakel – nou op heelagter; Ryan Nell, wat die Bolandse kaptein in 2016 se opstellende ronde van die Curriebekerreeks was totdat hy seergekry het; Carel Greeff, die sterk en baie effektiewe agsteman wat sy naam by Griekwas gemaak het, asook die ervare Frankie Herne.

Aan Leeuskant is daar ʼn hele paar spelers met Curriebeker- en selfs Superervaring.

♦  Die SWD Arende maak ook Vrydagaand hulle buiging in die nuwe kompetisie. Hulle lyk op hul tuisveld na die gunstelinge om die OP Kings hok te slaan.

Aan die debietkant is daar egter die feit dat die Arende dalk nie op alle silinders sal vuur nie weens die omstredenheid van hulle afrigter Abe Davids wat na ʼn mosie van wantroue deur die spelers bedank het, en die sewe weke sonder wedstrydoefening.

Die Kings het ʼn paar ervare manne, soos ondermeer die Namibiërs Chrysander Botha, Johann Tromp en die kaptein Giant Mtyanda wat al groot rugby gespeel het.

♦  Die Westelike Provinsie behoort die Grens Bulldogs te klop, maar soos die Leeus wat ly daaronder dat die unie se bestes in Australasië is, sal die WP-afrigter John Dobson ook op die volgende (derde) vlak WP-spelers moet staatmaak.

Die Bulldogs het verlede naweek met die Boland afgereken, 28-25.  Die Boland het in 2016  in die Curriebekerreeks sy man gestaan, maar het ʼn hele paar spelers verloor. Die naweek sal ʼn aanduiding gee van hoe kwaai hulle geraak is en hoe goed die WP se diepte is.

♦  Vyf punte vir die Blou Bulle is uit hulle wedstryd teen die Welwitchias in Windhoek ononderhandelbaar. Die Bulle het tuis teen die Pumas vasgeval en moet nou daarvoor vergoed.

Die Pretorianers het ʼn hele paar manne wat al op Supervlak gespeel het, maar dit sal veral die senters Ulrich Byers, wat ná sy besering terugkeer, en Franco Naude, en ook die Tukkies se vleuel Rabs Maxwane wees wat op ʼn goeie diens van die uithaler-skrumskakel Ivan van Zyl sal staat maak.

Onthou gerus die naam Ivan van Zyl …

Theuns Kotze, die Namibiese Wêreldbekerlosskakel, en die flank Rohan Kitshoff, sal die manne wees wat die lont vir die Namibiërs moet aansteek.

♦  Die wedstryd tussen die Luiperds en Griekwas behoort ook redelik gelykop te verloop. Albei het verlede week goeie oorwinnings oor onderskeidelik die Griffons (29-17 in Luiperds se guns) en die Sharks XV in Durban (Griekwas wen 28-7) behaal.

♦  Die Vrystaat XV speel tuis teen hulle buurspan, die Griffons, wat verlede jaar die Curriebeker Eersteligakampioen was maar soos hierbo genoem verlede naweek teen die Luiperds vasgeval het.

Bepalings –

Vrydag
SWD Arende vs OP Kings, Outeniekwapark, 19:00

Saterdag
Vrystaat XV vs Griffons, Vrystaatstadion, 14:30
TV: SS1/SelSA/SS210
Griekwas vs Luiperds, Hoërskool Diamantveld, 15:00
Pumas vs Goue Leeus, KaNyamazane (Nelspruit), 15:00
Welwitschias vs Blou Bulle, HG Geingobstadion, 16:00
Westelike Provinsie vs Grens Bulldogs, Stadspark, Kaapstad, 16:00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.