Supertameletjie wag dalk op Argentynse rugby

argentina-logo-newDit lyk of daar in die komende jaar `n supertameletjie op die Argentynse Rugbyunie (UAR) kan wag.

Americas Rugby News (ARN) berig dat hy betroubare inligting het dat die Amerikaanse superreeks tussen Argentinië, Amerika, Kanada, Uruguay, Chili en Brasilië vroeg Februarie afskop.

Die nuwe Argentynse Superrugby-franchise speel egter op 26 Februarie sy eerste wedstryd in Sanzar se reeks en dis byna seker dat die twee reekse gaan oorvleuel.

Hoewel die finale besonderhede oor die San Isidro-gebaseerde franchise eers vroeg Desember verwag word, lyk dit `n gegewenheid dat die grootste deel van die Poemas se Wêreldbekerspan Sanzarrugby sal speel.

Die vraag is dus of die UAR `n dubbele las op sy keurbende gaan plaas en of hy nasionale kleure aan sy naasbestes, die Jaguars, gaan toeken om in die Amerikaanse reeks te speel terwyl sy topspelers `n “mindere” reeks besleg.

Al die datums vir die Amerikaanse reeks is nie beskikbaar nie – ARN plaas net dié wat hy vir Amerika gekry het – maar die bekendes strek tot 6 Maart, twee weke ná die begin van die Sanzarreeks. Hiervolgens speel Argentinië op 6 Februarie teen Amerika.

Dis onwaarskynlik dat die franchisebase sal toelaat dat hul spelers se aandag tussen die twee reekse verdeel word.

Die Jaguars behoort in elk geval nie te sleg in die Amerikaanse reeks te vaar nie. Hulle het vroeër vanjaar Spanje en Namibië geklop in die toernooi om die Nasiesbeker in Boekarest. Roemenië het die Argentyne egter 23-0 verslaan.

Van die lande wat aan die Amerikaanse reeks deelneem, is net Argentinië (5de) en Amerika (16de) tans beter as Roemenië (17de) op die wêreldranglys geplaas. Chili (24ste) het onlangs sleg teen Spanje (21ste) verloor.

Argentinië het in elk geval die grootste diepte van die betrokke lande. Sy derde beste span, die Pampas-vyftiental  (wat `n paar jaar gelede sy beslag in die SA reeks om die Vodaconbeker gekry het) het vanjaar die Stille Oseaan-uitdaagtoernooi teen die naasbestes van Japan, Kanada, Fidji, Samoa en Tonga gewen.

t Interessantheidshalwe kan daarop gewys word dat Nieu-Seeland in 1949 All Black-kleure dubbeld toegeken het. Terwyl die beste All Blacks in Suid-Afrika getoer het, het Australië in Nieu-Seeland getoer en twee toetse teen eweneens volwaardige All Black-spanne gespeel.

Die derde toets in Suid-Afrika en die eerste in Nieu-Seeland het selfs op dieselfde dag geval.

Die All Blacks het al ses toetse verloor in wat as die “Swart Jaar” van Nieu-Seelandse rugby onthou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.