Suur druiwe volg op Aussie-steun vir SA afrigter

Dave Wessels (Foto: You Tube)

Suur druiwe is oënskynlik die gevolg van verskeie voorste Australiese spelers se steun vir ʼn Suid-Afrikaanse afrigter.

Dit steek blykbaar die Waratahs se voorsitter dwars in die krop dat die meeste Western Force-sterre hul oudbreier, Dave Wessels, na die Melbourne Rebels gevolg het sedert hul span uit die Superrugbyreeks gesit is.

Luidens berigte reken Roger Davis die Force se spelers moes eweredig tussen die oorblywende vier Australiese franchise’e verdeel word.

Die Suid-Afrikaans-gebore Wallaby Dane Haylett-Petty en sy broer Ross, ʼn Aussie-o.20-speler, was na berig word tussen die eerste Force-spelers wat Wessels gevolg het.

Ander Wallabies sluit Adam Coleman, Tetra Faulkner, Ben Daley, Matt Philip, Billy Meakes en Richard Hardwick in.

Wessels (35) word as een van die beste opkomende afrigters in Australië geag, en die spelers se toewyding aan hom toon dat hulle dié beskouing onderskryf.

ʼn Gebore en getoë Kapenaar het hy die Stormers as verdedigingskonsultant en die Ikeys as hulpafrigter gedien, voordat die gewese Springbok-afrigter Jake White hom in 2012 na die Brumbies gelok het, toe laasgenoemde die span in Canberra afgerig het.

Wessels was sedert verlede jaar die Force se hoofafrigter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lukas ·

Die Brumbies is van Canberra en die Queensland Reds is van Brisbane af.

Snuffels ·

Die is nou n uitstekende afrigter. Kyk maar na sy span, hulle is goed afgerig en het altyd n plan of twee. Hy doen goed sonser om sterre te he…maar hy sal nog n paar sterre maak

skollie ·

En hoe het die Force onder sy afrigting in die Superreeks gevaar?

T. van Schalkwyk ·

Die Western Force het tweede onder die, weliswaar swak, Aussiespanne geëindig en o.a. die Jaguares in Argentinië geklop.
Dave Wessels is ‘n held en het wondere verrig in Perth. Hy verdien die lojaliteit van die spelers. Die wedywering om Force-spelers te bekom, sou nogal komies wees as die hele storie nie so tragies was nie.
Die ARU het die Force skandalig in die rug gesteek en daarmee rugbyontwikkeling in die Weste ‘n doodskoot gegee. Asof rugby in Australië nie genoeg sukkel nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.