Suzie se spook loop (weer) in Nieu-Seeland

Rory Steyn (Foto: Twitter)

Rory Steyn (Foto: Twitter)

 

Die oud-polisieman Rory Steyn, wat jare gelede na die veiligheid van oud-president Nelson Mandela omgesien het, maar ook die All Blacks tydens die Wêreldbekertoernooi in 1995 opgepas het, is in Nieu-Seeland.

En waaroor spreek hy die Kiwi’s toe? Oor die All Blacks wat glo voor die eindstryd vergiftig is. Omdat beroepswedder-sindikate glo daarby betrokke was en miljoene sou maak as die Bokke die Webb Ellis-beker omhoog gehou het.

Steyn het die bewerings in 2000 in sy boek “One step behind Mandela” gemaak en nou het hy weer die saadjie geplant.

Ek wonder steeds of dit enigsins `n storie sou wees as die Bokke nie die eindstryd met 15-12 gewen het nadat Joel Stransky in bykomende speeltyd die wenskepdoel oorgeklits het nie. Sê nou maar dit was die All Blacks-losskakel Andrew Mehrtens wat dit reggekry het, sou die All Blacks nog daaroor gekla het?

Die oud-All Black-slot Robin Brooke het nou (weer) beweer dat sy kamermaat, Ian Jones, die aand voor die toets meer oor die toilet gehang as wat hy in die bed was.

Verskeie van die All Blacks, wat die Vrydagaand gaan fliek het, het Richard Loe toilet toe gevolg.

Volgens Steyn was daar die Donderdag glo met die drinkwater gepeuter, want twee-derdes van die span het “baie siek” geword.  Hulle het die Donderdagmiddag bief- en hoenderburgers in die hotel verorber. As dit voedselvergifting was, sou net die spelers wat die bief-, of hoenderburgers geëet het, siek geword het, maar almal is platgetrek.

`n Paar vrae: As die All Blacks só siek was, hoekom het die spandokter nie alarm gemaak nie? Is hul oefeninge gekanselleer? Hoekom het die kaptein, Sean Fitzpatrick, of die afrigter, Laurie Mains, niks daarvan op die nuuskonferensies voor die eindstryd gesê nie?  Sou dit ook enigsins moontlik gewees het om `n volle eindstryd, asook bykomende speeltyd, te voltooi sonder om om te kap?

En wat van die aand op die banket (toe die All Blacks, terloops, uitgestap het ná `n opmerking van die destyde SA rugbybaas, dr Louis Luyt, dat die Bokke dalk in 1987 die toernooie sou gewen het as hulle daar was), toe die spelers baie lekker aan die eet- en drinkgoed weggeval het.

Nee wat, daar was niks in die drinkwater nie – net suur druiwe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Henry ·

Afgesien van die feit dat die vergiftiging fabel ‘n pot vol snert is, is die Bokke bevark deur die Engelse pierrewaaier-skeidsregter toe hy nie Ruben Kruger se drie in die eerste helfte toegeken het nie. Al die betrokke spelers, All Blacks inkluis, WEET dat dit ‘n drie was.
Suur druiwe seg jy. Wil voorkom asof dit ‘n baie gewilde uitdrukking onder anti-Blou Bul siele is.
:-)

Piet ·

Onthou hy “vermoed” die water was vergiftig. Daar is egter ‘n groot verskil tussen vermoedens en feite. Vraag is, het hy gesien die water is vergiftig of het hy bewyse? Ek vermoed die man soek aandag.

theuns ·

Daar word nie n dooie woord gehoor van die All Blacks af of NZRU oor hoe Bryce Lawrence die bokke bevark het in die 2011 semi finaal teen Australie nie!Nee wat Dis n klomp klug,ons spelers word ook harder gestraf as dit kom by geoorloofde spel waar die All Blacks altyd ligter afkom.n spul “cry babies” as hulle nie hulle sin kry nie en altyd n swak verskoning as hulle verloor!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.