Swaai die stert die hond in Engeland?

Wie swaai die septer in Engelse rugby?

Is dit die klubs of die Engelse Rugbyunie (RFU)?

Die skaal swaai oor na die klubs, veral nadat Bath met £60 000 (sowat R991 000) deur die beheerliggaam van die premierliga beboet is nadat hy die Walliese agtsteman Toby Faletau vrygestel het om op 2 Desember vir Wallis teen die Springbokke te speel.

Die boete was aanvanklik £90 000 (sowat R1 487 miljoen) maar is verminder omdat Bath sy samewerking gegee het.

Lande word verplig om hul spelers vir toetsrugby beskikbaar te stel, mits dit binne Wêreldrugby se toetsvenster val. Vanjaar se toetsvenster het die laaste drie naweke in November ingesluit, maar die toets teen Wallis is die week hierna beslis. Dis hoekom Bath volgens ʼn Engelse klubregulasie “verbied” was om Faletau vry te stel.

Dit is nogal ironies dat Francois Louw, wat saam met Faletau ook vir Bath speel, nie vir die Bokke vrygestel is nie.

Die rede vir Bath se vrystelling van Faletau is dat hy ʼn klousule in sy kontrak het wat bepaal dat hy ten alle tye vir die Walliese toetsspan vrygestel moet word. Maar basta daarmee, sê die Engelse Premierklubs: Dis nie die papier werd waarop dit geskryf is nie.

Nou is die vraag, nadat Northampton ʼn paar seisoene gelede ook moes opdok nadat George North vrygestel is om vir Wallis buite die toetsvenster te speel, hoekom het Bath oortree?

Die groter vraag is egter hoekom het Wallis (en ook die Suid-Afrikaanse Rugbyunie) ʼn toets buite die toetsvenster gereël? Saru het immers geweet dat ʼn aantal spelers nie deur hulle klubs in Europa en Japan vrygestel sal word nie.

Gaan Wallis nou tot Bath se boete bydra, veral nadat die Rooi Drake die Bokke met 24-22 geklop en hulle miljoen ponde wins in ʼn volgepakte Millennium-stadion in Cardiff gemaak het?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.