Swaarkry SA spanne se voorland in Pro14

Ja, dit wás maar die eerste wedstryde in vanjaar se Pro14-reeks, maar reeds ys jy om te dink dat die huidige neiging, geoordeel aan die naweek se eerste sukkel-wedstryde, vir die Suid-Afrikaanse spanne kan voortduur.

ʼn Kykie na die (toegegee, tans niksseggende) puntelys wys dat die Cheetahs uit die 14 spanne die swakste gevaar het en heel onder is, en die Kings is tweede laaste.

Uiteraard is hul teenstanders dié naweek, onderskeidelik Munster en Zebre, bo, want dit is ná net een ronde die punteverskil wat enersyds al die wenners en aan die ander kant al die verloorders, van mekaar skei.

Hoe ʼn span in vandag se dae met ʼn ronde nul van die veld kan stap, weet ʼn mens nie, maar dit is ʼn aanduiding van die Vrystaters se onbeholpe spel. Hulle het 0-38 verloor. Ses drieë teen nul vertel sommer ook die storie van die onvermoë op die verdediging.

Soos by die Kings was gebrekkige vaardighede en opsies die rede waarom die Cheetahs nie hul min geleenthede kon afrond nie; en net soos by die Kings was daar te veel geleenthede vir die teenstanders om doeltreffend aan te val.

Vir ʼn ruk in die eerste helfte het die Cheetahs se agterlyn seepglad gefunksioneer, hoewel dit nie juis gelyk het of daar slaankrag is nie.

Die kere wat dit wél in die wedstryd daar was, is dit deur swak hanteerwerk of opsies ongedaan gemaak.

Die Cheetahs se voorspelers gaan vorentoe eenvoudig te onervare wees om met die meeste van die groot kanonne saam te praat, en ondanks ʼn lekker agterlyn (in elk geval op papier) sal daar meer gedoen moet word as om net die bal na die buitekant toe aan te gee.

♦  Saterdag speel die Kings én die Cheetahs in Wallis teen onderskeidelik die Dragons van Newport en die Ospreys (Swansea).

Die Ospreys het die naweek met 17-13 teen Edinburgh gewen en die Dragons is naelskraap met 21-17 deur die Italiaanse span Benetton geklop.

Die twee Suid-Afrikaanse spanne speel dan die daaropvolgende naweek tuis ‒ die Cheetahs teen Glasgow en die Kings teen Ulster, met die twee oorsese teenstanders wat dan in hul tweede toerwedstryde omruil teen die twee Suid-Afrikaanse teenstanders. 

Puntemakers Munster vs Cheetahs ‒

Munster 38 (12): Drieë: Rory Scanell, Dave Kilcoyne, Tommy O’Donnell, JJ Hanrahan, Dave O’Callaghan, Darren Sweetnam. Doelskoppe: Hanrahan (4).
Cheetahs: 0

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Evert ·

Die Cheetas het my as gebore Vrystater in skaamte laat sak!! Ek hoop Franko is al van die vloer af opgehelp!!???

Johan ·

Diw Cheetas begin elke jaar met nuwe speelers. Hoekom moet ander unies altyd die Vrystaaters koop.

Frans C ·

baie van die spelers bevind hulself nou in buitelandse klubs.

CdV ·

Is daar regtig voordeel vir ons rugby om in noorde deel te neem? NEE, dit kos net ‘n moeweiese klomp geld en maak SA rugbykrag se naam gat. Spandeer liewer die geld en energie om ons eie Curriebeker weer aansien te gee. Maak Curriebeker wedstryde ‘n bekostigbare gesinsuitstappie met skole rugby voorwedstryde, dan klubspan wat speel, soos ouds, dan B span wedstryd of selfs vrouespan voorwedstryd en dan die hoofwedstryd. So bou en groei jy die sport Rugby en toeskouergetalle met betrokkenheid en nie deur tv base se geldgierige nukke en grille nie.

bloues ·

Skrumskakels wat balle onnodig wegskop is ‘n siekte in Suid Afrikaanse rugby op alle vlakke. Afrigters wat nie kan sien dat wanneer die skrumskakel met die bal n paar tree skuins hardloop en dan die hele agterlyn onder druk plaas, stupid is, is nie hul poste werd nie.

Niklaas ·

Die arme Cheetah en Kings spanne sal vanjaar seker weer die Pro14 ” whipping boys ” wees. Die kompetisie is duidelik slegs troospryse vir die 2 spanne wat op die ashoop gegooi was ,maar veral die Kings se spel is vernederend en vrot en nie goed vir die beeld en reputasie van SA spanne in Europa nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.