Swakopmund lok Springbok-losskakel

west coast sharksRugby op Swakopmund in Namibië kan eersdaags met `n Springbok-losskakel in sy span spog.

Jurie Booysen, die voorsitter van die West Coast Sharks, het aan Pale Toe! bevestig dat André Pretorius vanjaar as speler en afrigter by die klub betrokke sal wees.

Pretorius, wat Suid-Afrika die Wêreldbeker (RWB) in 2007 help wen het, het van 2002 tot 2007 in 31 toetse vir die Bokke gespeel en 171 punte behaal. Met sy uittrede in 2014 het hy vir die Luiperds gespeel.

Booysen, wat self Namibië as heelagter verteenwoordig en aan 2003 se RWB-toernooi deelgeneem het, het groot planne vir die West Coast Sharks, wat tans in die Namibiese Reserweliga speel.

Hy het `n vierledige doel met Pretorius se betrokkenheid: hy mik na die Namibiese Premierliga; hy wil die publiek weer laat rugby kyk; hy wil sy jong spelers aan ervaring blootstel; en afrigting van `n hoogstaande gehalte aan die kinders bied wat deel van die klub is.

Sou hy die Premierliga haal, oorweeg die klub om aanstaande jaar aktiewer glansspelers te lok om die belangstelling aan te wakker. Hy verwys na die bloeityd in Namibiese rugby in die jare tagtig toe klubwedstryd duisende toeskouers gelok het.

Booysen sê sy ervaring toe hy op sy dag in Engeland en Wallis rugby gespeel het, was ook dat sulke spelers se teenwoordigheid dit makliker vir klubs maak om borge te vind.

Hy glo die klub se jong spelers sal grootliks baat vind by die ervaring wat `n beroepspeler soos Pretorius, wat hy as `n fantastiese losskakel bestempel, na die klub bring en dit kan die klub se rugby `n trappie hoër lig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.