Swanepoel sink Pumas-skip al skoppend

Die Pumas se Pieter van Vuren se vir Marnus Schoeman die stryd aan. Foto: GB Jordaan.

Laat ons nie doekies omdraai nie: die Pumas kán rugby speel. Hulle sal egter nog moet leer om die uitklophou te plant en nie net die spanne die skrik op die lyf te jaag nie.

Die Laevelders het gisteraand in die 68ste minuut op Ellispark nog met ses punte teen die Leeus voorgeloop, maar die Johannesburgers het uiteindelik dié vriendskaplike kragmeting met 32–28 gewen.

Daar was ’n paar redes vir die tuisspan se sukses; benewens deursettingsvermoë en durf, natuurlik.

Jannie du Plessis het, soos ’n dokter wat sy sout werd is, die Leeus se skrum kom stabiliseer nadat die Pumas se Morgan Naudé weer eens ’n barshou gespeel het.

Dan het Tiaan Swanepoel se skuif van heelagter na losskakel seepglad verloop en hy was in die kol met twee doel- en ses strafskoppe. Om 22 punte in só ’n wedstryd aan te teken was uiteindelik die verskil tussen die twee spanne.

Foto: GB Jordaan.

Die Pumas het Eddie Fouché op losskakel terugverwelkom nadat hy verlede jaar ernstig teen die Stormers in die Unlocked-reeks beseer is, terwyl hul voorspelers uitstekende werk naby die Leeus se doellyn verrig het.

Maar oudergewoonte het hulle ’n oorwinning teen ’n groot unie weer deur hul vingers laat glip. Een van die dae gaan die Pumas egter begin om vir die volle 80 minute die septer te swaai en dán gaan die vonke in Suid-Afrikaanse rugby spat.

  • Puntemakers:

Leeus: Drieë: Morné van den Berg en MJ Pelser. Doelskoppe: Tiaan Swanepoel (2). Strafskoppe: Swanepoel (6).

Pumas: Drieë: Simon Westraadt, AJ Mgijima en AJ le Roux. Doelskoppe: Eddie Fouché en Ginter Smuts. Strafskoppe: Fouché (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

MakersMark ·

Goed gedoen Leeus. Maar uitstekend Cheethas. Lanklaas so lekker gelag. Rasool se “nuwe begin” op die nuwe veldjie toe so bietjie gesink. Skande maar so soet.

Frans ·

As die doel was om meer jonger spelers bloot te stel aan senior rugby kan ‘n mens sê die Leeus se eksperiment was geslaag anders as die van die Bulle wat toe 44-14 deur die Pumas afgeslag is,toe hulle ‘n onervare span gestuur het om met die Pumas kragte te meet.
Nie die WP met al sy interne probleme of die Leeus het my oortuig dat hul beter in die Pro 16 reeks gaan vaar as wat hul in die werklike Superrugby gevaar het,As die Bulle met al hul aankope nie die mas
gaan opkom in die kompetisie nie is dit nog ‘n mislukte Saru eksperiment soos met die Cheetahs en Kings.

MakersMark ·

Stem saam, vraag is of die bulle in die CB wedstryd teen die Pumas nie maar “thrown caution to the wind” omdat hul reeds in die uitspeel wedstryde was nie en toe due jong span blootgestel het aan van die gardebaarde by die Pumas nie. Die is ‘n heel nuwe kompetisie. Leeus lyk goed en het ‘n span wat kan verbeter. Bulle het 2 bekers en klomp duur aankope wat gewerk het tot nou en hul sal in die kollig wees. WP gaan van sleg na vrotsleg agv geld en leierskap probleme, op en van die veld af. Ongelukkig is daar net te veel korrupsie en inveg by die EP lyk maar soos ons parlement daar. Dis hoekom dit ook so gaan. En WP is sterk oppad boontoe. Cheetah’s kan eintlik op enige dag enige lokale span klop maar hulle is nie “consistent” nie een dag uitstekend ander dag flou.
So die hoop is op die bulle met Sharks tweede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.