Swarigheid wag op die Cheetahs en die Kings

Ses veranderinge is waarmee die Cheetahs Vrydagaand in Glasgow teen die Pro14 se voorste span sal probeer om slegs hul tweede oorsese oorwinning te behaal.

Die Kings speel in Swansea teen die Ospreys.

Cheetahs vs Glasgow Warriors, 21:35

Kan die Cheetahs hul wegrekord teen die Glasgow Warriors omkeer?

Onwaarskynlik. Die Cheetahs wat ons tot dusver oorsee sien sukkel en vasval het, is net ʼn skadu van die span wat op tuisgrond in Bloemfontein gedy.

Wat die Cheetahs tot voordeel sal strek, is die nege Glasgow-spelers wat by Skotland se groep vir die Sesnasies is. Daar is ook, soos dit maar op hierdie vlak gaan, heelwat beserings en die tuisspan kon soos die Vrystaters nege van hulle spelers nie oorweeg nie.

Die stut Tom Botha is die jongste toevoeging tot die Cheetahs se beseringslys en is teruggestuur huis toe om by die agt ander beseerdes aan te sluit.

Die Cheetahs het soos volg vir die wedstryd verander na hulle verlede week teen die Cardiff Blues verloor het:

Agterlangs speel Malcolm Jaer linkervleuel in die plek van Sibhale Maxwano, en Niel Marais is losskakel in Fred Zeilinga se plek. In die voorry is Charles Marais in Ox Nché se plek gekies en Luan de Bruin vervang Aranos Coetzee; Reniel Hugo is die slot in Rynier Bernardo se plek en Henco Venter vervang Tier Schoeman as nommer ses-flank.

Die Vrystaters sal, ondanks die toetsspelers wat nie vir Glasgow beskikbaar is nie, te doen kry met die kaptein Rob Harley wat in sy 177ste wedstryd die klubrekord ewenaar. Sy flankmaat Chris Fusaro (136 wedstryde) en die slot Tim Swinson (106) is saam met die loskop Alex Allan (68) ervare manne in ʼn klipharde pak.

Die heelagter Ruaridh Jackson het ook al 136 wedstryde op sy kerfstok.

Cheethasspan –

15 Clayton Blommetjies, 14 Craig Barry, 13 Francois Venter (kapt.), 12 Nico Lee, 11 Malcolm Jaer, 10 Niel Marais, 9 Shaun Venter, 8 Uzair Cassiem, 7 Oupa Mohoje, 6 Henco Venter, 5 Reniel Hugo, 4 Justin Basson, 3 Luan de Bruin, 2 Torsten van Jaarsveld, 1 Charles Marais. Bank: 16 Jacques Du Toit, 17 Ox Nche, 18 Johan Coetzee 19 Carl Wegner, 20 Paul Schoeman, 21 Zee Mkhabela, 22 Fred Zeilinga, 23 Luther Obi.

Ospreys vs Kings, 21:35

ʼn Ellelange beseringslys, insluitende die oud-Bokstut Brian Mujati en die Walliese losskakel Dan Biggar, en drie van die Ospreys se toetsspelers wat nie van die Walliese toetsgroep vrygestel is nie, sal teoreties vir die Kings ʼn wenkans in Vrydagaand se Pro14-wedstryd in Swansea gee.

Maar daar is steeds 126 toetse gespeel deur die klomp wat teen die Kings opdraf, en ondanks hulle eie flouerige rekord tot dusver in die reeks behoort die Ospreys die wedstryd tóg te wen.

Hoekom?

Want die Kings is die Kings. Waarom sal hulle nou skielik verras? Hulle kon nog die hele seisoen nie die basiese dinge doen nie, het nie die vaardighede nie, lyk sonder struktuur en stel klaarblyklik nie belang om langer as sowat 20 minute per wedstryd te speel nie.

Ook in die Ospreys se guns is die vrystelling van vier van hulle Walliese spelers uit die nasionale groep vir hierdie wedstryd. Die stut Nicky Smith (op die bank), slot Adam Beard, losvoorspeler Justin Tipuric en die senter Owen Watkin is in die 23-tal wat teen die Kings speel.

Die ervare span het reeds saam in 1026 wedstryde vir die klub gespeel.

Die Ospreys is tweede laaste in afdeling A van die reeks met net vier oorwinnings in 14 wedstryde en die Kings laaste in afdeling B en in die kompetisie as geheel.

Die Kings het net een verandering aan die beginspan gemaak wat met 10-59 slae teen Ulster gekry het met Michael Makase wat Anthony Volmink vervang en Pupuma Luvuyo wat in die beseerde stut Dayan van der Westhuizen se plek op die bank sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.