Swarigheid wag vir Bokke teen Franse, Wallis

As Allister Coetzee dink die Franse gaan Saterdag, soos in Junie, sommer weer teen die Bokke boedel oorgee sodat hy sy eerste oorwinning in vyf wedstryde in Europa kan kry, maak hy ʼn fout.

En ook dat Wallis sommer sal gaan lê in die laaste toerwedstryd oor drie weke.

Ja, die Franse het teen die All Blacks verloor. En ja, die Wallabies het hulle 13de opeenvolgende sege teen Wallis behaal. Maar daar was Saterdag in hierdie twee wedstryde genoeg waarskuwings dat die Springbokke stukke beter sal moet speel as teen Ierland as hulle die Franse en Wallis wil klop.

Frankryk was rustyd met 5-31 agter teen die All Blacks, wat in die eerste helfte van die wedstryd in die Stade de Francais met rukke van hul heel beste samespel uitgestal het.

Die Franse het gehoop om voorlangs te oorheers, maar dit het by hoop gebly.

Maar toe kom hulle na rustyd, toe hulle reeds met 5-31 agter was, met meer vuur en beter samespel terug op die veld, verdedig beter en kry self ʼn tweede (straf) drie om uiteindelik met 18-38 te verloor nadat die All Blacks hul eie telling met ʼn laat drie deur Waisake Naholo laat beter lyk het.

Geoordeel aan die Franse se spelpeil in die tweede helfte sal Coetzee-hulle lelik vasval as hulle soos teen die Iere ploeter.

♦  Die Wallabies was beter as Wallis, en het verdien om in Cardiff met die louere weg te stap. Die oorwinning van 29-21 vertel egter nie dat Wallis, wat die bal meer as in die verlede gedra het, se verdediging puik was en dat hulle geleenthede geskep het wat deur die meer hardlooprugby ook meer hanteerfoute gebring het nie.

Teen die laaste wedstryd van die Springbokke se toer, met die een voet op die vliegtuig, sal die Drake nie ʼn maklike teenstander wees nie – veral nie as hulle oor die volgende drie weke aan hul nuwe benadering en hanteerwerk skaaf nie.

♦   Italië, wat oor twee weke teen die Bokke speel, het Saterdag na nege neerlae hulle eerste oorwinning behaal toe hulle Fidji met 19-10 geklop het. Hul laaste oorwinning was verlede jaar toe hulle die Springbokke geklop het.

Die rustydtelling, 10-elk, in die klipharde wedstryd het gewys Italië se vyf nuwelinge kan ʼn nuwe gees en benadering bring.

Die wedstryd is eers kort voor die einde met ʼn strafdoel deur die wenspan beklink.

As Coetzee-hulle egter (weer) teen Italië vasval, sal dit niks minder as reg wees dat die Bokafrigter die pad gewys word nie.

♦  Engeland moes hard werk vir die 28-8-sege teen Argentinië. Die Poemas het in die tweede helfte met mening gespeel en ʼn hele paar keer die Engelse verdediging laat bontstaan. Engeland het twee drieë teen een gedruk, maar die middelmatige Engele afronding het grootliks hulle eie, beter aanvalsvermoë geneutraliseer.

As ʼn skouspel was dit ʼn wedstryd wat  nie lank onthou sal word nie, en die Twickenham-skare was hoofsaaklik bedees met die min opwinding wat die twee spanne gelewer het.

♦  In ʼn opwindende wedstryd, veral hier teen die einde, het Skotland genoeg gedoen om op Murrayfield met 44-38 teen Samoa te wen.

Samoa het ondanks die drama van die onthulling die week dat hulle rugbyunie bankrot is, pragtig teruggeveg nadat hulle rustyd met 10-25 agter was, en het drie minute voor die einde hulle vyfde drie gedruk om die Skotte die telling op 44-38. onder druk te plaas met die telling op 44-38.

♦  Georgië is vinnig besig om ʼn krag in wêreldrugby te word en het Kanada maklik met 54-22 geklop.

♦  In ʼn wedstryd wat eintlik meer ʼn boksgeveg as ʼn rugbywedstryd was, het die Franse Barbarians verras deur die All Black Maori’s in die Stade Chaban-Delmas met 19-15 te klop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chris Ws ·

Ons ”Nationale Span”( hulle is nie die naam Springbokke werd nie) gaan nog ‘n pakslae op die lyf loop teen Frankryk.Enige iemand wat met my ‘n weddenskap daaroor wil aangaan?Hier kom ‘n ding!

Robert Naude ·

Maroela media,
Vir julle aandag, sentiment tel nie meer nie. Los die ” apartheids name”
Hulle is meer werd as wat julle ooit op papier kan vaslê.
SARU moet die lot fire. Is mos professionele spelers en word goed betaal. Hulle is ń lot patete en die naam van Springbokke nie werd nie.

Frans C ·

Coetzee is duidelik uit sy diepte en kon nie enige sukses behaal met ‘n rugbypatroon wat hy in spelers se keelgate afdruk nie.Hoe is dit moontlik dat spelers van die Leeus wat betrokke was in ‘n Superrugby eindstryd teen ‘n All Black gelaaide span, nou so swak speel dat ek wonder of hul nog die Leeus se beginspan kan haal.

Voeg daarby dat onbevestigde gerugte lui dat Rohan Janse van Rensburg ‘n kontrak met Sales Sharks geteken het en dus ook vir die Leeus en Springbokrugby verlore sal wees,moet tog ‘n goeie aanduiding wees dat Coetzee gedwig word om sekere spelers te kies ten einde die politieke base tevrede te hou.

Hoe gouer hoe beter die span se naam verander word hoe beter,want dit is ‘n onreg teenoor spelers van die verlede wat sonder noemenswaardige vergoeding die ‘Sprinboknaam uitgebou het tot ‘n rugbynaam,wat wêreldwyd agting afgedwing het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.