Swarigheid wag vorentoe op Namibië

Damian Stevens – al die punte. (Foto: Facebook)

Swarigheid wag vorentoe op Namibië, veral in die toernooi aanstaande jaar in Japan om die Wêreldbeker (WB), tensy hy sy spelpeil van sy afgelope twee wedstryde wesenlik kan ophef.

Saterdag in Madrid was dit Spanje, slegs twee plekke bo hulle op die wêreldranglys, wat die Biltongboere met 34-13 opgekerf het (rustyd 21-10).

Afrika se kampioen het ewe oninspirerend vertoon as ʼn week gelede toe die Russiese Beer hom in Krasnojarsk met 47-20 verskeur het.

Twee strafdrieë en ʼn geel kaart vir herhaalde oortredings dui op die koop toe daarop dat die span se dissipline veel te wense oorlaat.

Damian Stevens (skrumskakel), wat op 23 al 24 toetse agter die rug het, het al 13 Namibië se punte met ʼn doel en twee strafdoele aangeteken.

Hy het Boland vroeër vanjaar in die Curriebeker- Eerste Liga verteenwoordig.

♦ In Bedwas, Wallis, het die streekspan Dragons, met sy tuiste in Newport, Vrydag die besoekende Rusland met 38-24 verslaan.

Die Walliesers het ses drieë teen die Bere se drie gedruk.

Die Russe het goeie teenstand gebied, maar die tuisspan se agttal het stadig maar seker die oorhand gekry. Die Dragons moes egter die laaste rukkie kwaai wal gooi toe die besoekers ʼn tweede asem gekry, en met mag en mening aangeval het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.