Swart Kersfees nie net Cheeky se skuld

ep-kings-logoDis nie net die verguisde Cheeky Watson wat die skuld daarvoor moet dra dat `n klompie belowende Oos-Kaaplandse rugbyspelers deur `n swart Kersfees in die gesig gestaar word nie.

Watson het die spelers op die vooraand van die feestyd ewe onpersoonlik met `n kort epos-briefie in kennis gestel hul kontrakte word beëindig omdat daar nie geld is om hulle te betaal nie.

Hy sê dit nie in soveel woorde nie, maar alles dui daarop dat die Oostelike Provinsie se Rugbyunie bankrot is.

Reg genoeg, met die voor die hand liggende feite, glo `n mens hy verdien elke pak slae wat hy kry, maar word hy nie gelooi terwyl ander skuldiges skotvry kom nie?

Van die grootste skuldiges in die sage – in werklikheid die hoofverdagtes – is die politici wat in die Oostelike Provinsie se rugby die verwesenliking van bepaalde politiek-ideologiese ideale gesien het. Dié mense wat die klimaat vir rampspoed geskep het, is nou so stil soos muise.

Wat die vlagskip van die ondeurdagte en uiters kunsmatige transformasie in rugby moes wees, is `n klaaglike mislukking en `n klassieke les dat die politici hul neuse uit sport moet hou.

Nie dat hulle juis mense is wat hulle aan lesse of selfs die harde werklikheid steur nie.

Feit is, die borge is so bang soos die duiwel vir `n slypklip vir die Oos-Kaap. Of dit die arm Oos-Kaapse ekonomie is en of dit die politieke inmenging is, kan oor geredeneer word, maar vir tyd en wyl is rugby in dié streek ooglopend nie finansieel lewensvatbaar nie.

Benewel deur politieke beskouinge is eenvoudig voort gefoeter (en geploeter) met `n projek om Superrugby te wil speel nog voor die geweste selfs sy man in die Curriebekerreeks kon staan.

Daar is nóg wat slae verdien.

Die SA Rugbyunie (Saru), trouens ook Wêreldrugby en Sanzar hoewel hulle as ʼn reël inmenging vermy, kan allermins hul hande was aan die vernietiging van jongmensideale en dalk ook -lewens.

Hulle moes die katastrofe sien kom het. Hulle het te lank gesloer om in te gryp.

Nou het Saru reeds weer die OP Kings se plek in die Curriebekerreeks van 2016 verskans. Op grond waarvan? `n Mens sukkel om die kloutjie by die oor te bring.

Dit dui op die voortsetting van die mislukte en misplaaste eksperiment. Dis politiek, nie rugby nie.

Waar gaan die geld vandaan kom? Die groter vraag is hoe lank Saru midde-in ander aansprake op die begroting die Southern Kings kunsmatig aan die lewe sal kan hou.

Ongelukkig is die slagoffers nie die selfgenoegsame politici nie, dis `n klompie jong rugbyspelers wat in die steek gelaat is deur diegene op wie hul vertrou het.

Behalwe Cheeky Watson behoort daar `n hele paar ander mense te wees wat nie lekker slaap nie.

Is dit nie tyd dat van die rugbyadministrateurs hulle self `n slag afvra of hulle nie self soos hulle so graag die vinger wys “die spel oneer aandoen” nie?

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cjan ·

SARU verander na SARP staan vir Suid Afrikanse Rugby Politiek. Solank politiek sport gaan beheer kan vergeet word van prestasies in die toekoms. SA rugby is besig om te vou die krieket het klaar gevou. Alles is politiek se skuld. Dis jammer maar dis feite.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.