SWD en Grens verras in tweedevlakreeks

Die Suidwestelike Distrikte (SWD) en die Grens het Vrydag verras in die Curriebeker- Eerste Liga en die belangstelling in die reeks aangewakker.

Die SWD Arende het hul tuisveldvoordeel op Outeniekwapark in George benut om die Valke in ʼn klipharde wedstryd met 13-9 te klop. Die besoekers was rustyd met 6-3 voor.

Op Despatch het die Grens die Oostelike Provinsie ʼn deeglike loesing van 40-24 toegedien, nadat die wenspan rustyd met 14-7 voor was.

Die Luiperds het op Potchefstroom ʼn wegholsege van 78-29 oor die Welwitschias behaal, en dit wil lyk of die besluit om vyf van die Namibiërs se toetsspelers aan die klub Western Suburbs vir die Goue Bekerreeks af te staan heelwat fut uit die besoekers gehaal het.

Schalk Hugo, die Noordwesters se losskakel, het 28 punte aangeteken. Dit het uit ʼn drie, tien doelskoppe en `n strafdoel bestaan.

Met Saterdag se wedstryd op Wellington tussen die Boland en die Griffons uitstaande, is die Luiperds voorlopig voor in die reeks, gevolg deur die Griffons, die SWD en die Boland.

Die puntemakers –

SWD 13 (3) – Drie: Marlo Weich. Doelskop: Leighton Eksteen. Strafdoele: Leighton Eksteen (2).

Valke 9 (6) – Strafdoele: Warren Potgieter, Errol Jaggers. Skepdoel: Warren Potgieter.

OP 24 (7) – Drieë: Wynand Grassmann, Siyanda Grey, Spu Msutwana (2). Doelskoppe: Rivan Lemmer, Sonwabo Majola.

Grens 40 (14) – Drieë: Phumlani Blaauw, Billy Dutton, Athenkosi Manentsa, Lelethu Gcilitshane, Sethu Tom, Xolela Payi. Doelskoppe: Nkululeko Ndlovu (2), Xolela Payi (3).

Luiperds 78 (31) – Drieë: Dewald Dekker, Juandré Rudolph (2), Schalk Hugo, Gene Willemse, Bradley Moolman (2), Jimmy Mpailane, Lungelo Gosa, Francois Jacobs, Dean Gordon. Doelskoppe: Schalk Hugo (10). Strafdoel: Schalk Hugo.

Welwitschias 29 (12) – Drieë: Christo van der Merwe, Lesley Klim (2), Macho Prinsloo, Francois Wiese. Doelskoppe: Macho Prinsloo (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.