SWD: ervaring red kampioen in gelykop stryd

evergreens-logoEvergreens van Pacaltsdorp se sterk karakter en die span se ervaring om in gelykop stryde kalm te bly, was deurslaggend in sy wedstryd Saterdag teen `n omgekrapte Progress in die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Premierliga.

Die SWD-kampioen en Goue Bekerspan het die span van George, verlede jaar se naaswenner, 26-22 geklop.

Barbarians van Mosselbaai het `n goeie oorwinning van 23-6 oor Swellendam behaal; maar Groot-Brakrivier het ná `n goeie begin sy vierde opeenvolgende nederlaag op die lyf geloop toe Crusaders van George hom 24-10 op Parkdene geklop het.

Die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU) se Saasveldkampus het Blanco Dinsdag 22-17 geklop, maar is Saterdag 42-22 deur Bridgton van Oudtshoorn verslaan.

In nog `n hoogs mededingende kragmeting het Blanco 20-18 teen Silver Stars van George gewen.

♦ `n Woordvoerder van Evergreens sê die titelhouer het `n vroeë agterstand van 14-0 uitgewis om rustyd 19-14 voor te loop.

“Net ná rustyd het hy `n bonuspuntdrie gedruk.

“Progress het egter laat in die wedstyd goed teruggeveg, maar puik verdediging het hom daarvan weerhou om die wenpunte aan te teken. Luzane Wiliams (heelagter) het twee sekere drieë met goeie duikslae voorkom.

“Wiliams het in die in laaste vesting geskitter, en sy kanonvoet het die druk telkemale verlig.
“Niemand was voorlangs beter as die agsteman, Gershwin Muller, nie. Hy het op die aanval sowel as die verdiging geskitter, en boonop `n puik drie gedruk.

“Elroy Louis (skrumskakel) verbeter weekliks en sy puik diens agter die voorhoede het talle aanvalsgeleenthede agterlangs geskep. Sy puik induvidualistiese drie het die groot skare op hul voete gehad.”

Benewens Muller en Louis het Dwayne Smart en Divandré Strydom drieë gedruk. Leegan Moos het drie verdoel.

Barbarians mosselbaai - logo♦ Edward Maart, die sekretaris van Barbarians, sê verkeerde keuses en hanteerfoute het die span `n bonuspunt teen Swellendam gekos.

“Doellose skoppe was aan die orde van die dag en met beter taktiese spel kon die telling veel groter gewees het.”

Bradley Sumaro (flank) is as die speler van die wedstryd aangewys.

Wahlon Anthony (heelagter) en Jerome Fillies (regtervleuel) het elk `n drie gedruk. Morné Buis (skrumskakel) het 11 punte met `n doelskop en drie strafdoele behaal. Wilbur January (plaasvervanger-losskakel) het met `n doelskop geslaag.

Barbarians se tweede span het 38-3 en die derde 32-16 teen hul Swellendamse eweknieë gewen.

Maart sê Leroy Koopman (slot) is as die speler van die wedstryd aangewys.

Chester Mitchell (regtervleuel) het twee drieë gedruk, Kervin Taute (heelagter), Addington Mondo (linkervleuel), Vivian Groenewald (loskopstut) en Gary Olckers (plaasvervanger-loskopstut) elk een.

Mondo het met drie doelskoppe geslaag vir `n eie totaal van 11. Linden Rhode (losskakel) het `n doelskop behaal.

Devon Holland (flank) was die derde span se beste speler.

Renaldo Hartnick (skrumskakel) het twee drieë gedruk en Leolan Mondoe (heelagter), Gary Olckers (vaskopstut) en Cresswille Kiewiet (plaasvervanger-losskakel) elk een. Reagan Pienaar (losskakel) het met `n doelskop en `n strafdoel geslaag, en Kiewiet met `n doelskop.

groot-brakrivier♦ Demi Rhoode, die wedstrydsekretaris van Groot-Brakrivier, sê die span het verskeie geleenthede gehad om die wedstryd te wen, maar `n gebrek aan afronding het hulle dit gekos.

“Behalwe balbesit wat doelloos weggeskop is, het swak verdediging `n probleem geskep.

“Crusaders se losvoorspelers was uitstekend met hul agsteman aan die spits.”

Rhoode sê aan Groot-Brak se kant was Henn-lin Botha, die heelagter en kaptein, baie goed.

“Hy het sy span se enigste drie gedruk ná `n goeie breekslag toe hy by die agterlyn aansluit het.

“Die nuweling in die span, die flank Quinton Esau, is as die speler van die wedstryd aangewys.”

Groot-Brak se tweede en derde span het hul wedstryde gewen.

♦ Andries Jacobs, die sekretaris van Dysselsdorp Rangers, sê die klub is kort voor Saterdag se wedstryd moes begin deur Glen Roses van Avontuur laat weet dat dié nie `n span bymekaar kon kry nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.