Die Suidwestelike Distrikte (SWD) se klubkampioen die afgelope paar jaar, het Saterdag net-net daarin geslaag om vir die eindstryd in die bond se Premierliga in aanmerking te kom.
Evergreens van Pacaltsdorp het sy aanspraak op die kampioenskap en die gepaardgaande deelname aan die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale reeks om die Goue Beker aan die lewe gehou deur Bridgton van Oudtshoorn naelskraap met 23-22 in die halfeindronde te klop.
Ná afhandeling van die rondomtalie was Evergreens derde en Bridgton tweede op die punteleer.
In die ander halfeindstryd het Progress van George met 29-22 teen Barbarians van Mosselbaai gewen.
George en Heidelberg sal die Presidentsliga uitspook.
Eersgenoemde het Prins Albert met 34-21 uitgeskakel; en laasgenoemde het Albertinia met 15-8 getroef.
Die eindstryde word eerskomende Saterdag op Outenikwapark in George afgehandel.
Ander uitslae –
Premierliga
Tweede spanne
Barbarians 10, Progress 8; Groot-Brakrivier 17, Bridgton 15.
Derde spanne
Barbarians 17, Progress 12; Groot-Brakrivier 15, Bridgton 13.
Presidentsliga
Tweede spanne
George 40, Willowmore 17; Heidelberg 32, Albertinia 11.