SWD-Kusliga: bloedstryd om bonuspunte bepalend

SWD Arende - logoDaar kan kwalik `n beter voorbeeld wees van die belangrikheid van bonuspunte as in die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Kusliga waar `n heftige stryd in dié opsig heers.

In die Oosstreek loop Young Roses (George) voor ondanks sy twee nederlae teenoor sy vernaamste uitdagers, Excelsior (Plettenbergbaai) en Knysna United, se enkele drag slae elk.

Albei het Roses geklop, maar sy indrukwekkende nege bonuspunte in sewe wedstryde strek tot sy voordeel.

Ook in die Suidstreek is dit die bonuspunttelling wat Hungry Lions (Klein-Brakrivier) teen Garden Route (Mosselbaai) laat voorloop.

Beide spanne is onoorwonne en hulle het 14-14 teen mekaar gelykop gespeel.

♦ Twee van die voorlopers in die Ooste het Saterdag groot oorwinnings behaal.

Young Roses het United Stars (Geelhoutboom) 27-8 geklop; en Knysna United het 27-5 met Groter Knysna afgereken.

Excelsiors het Plett United naelskraap 23-21 getroef.

In die ander wedstryde het Black Lions (George) 39-19 teen Super Stars (George) gewen; Perseverance (George) het Pro Stars (Proteapark) 28-16 geklop.

Die sleutelstryd komende Saterdag is tussen Excelsiors op sy tuisveld en Knysna United. Die span wat verloor se pad kan vorentoe opdraande raak.

Young Roses speel teen Super Stars en behoort die voortou te behou. As hy egter gly, sal daar `n nuwe voorloper wees.

Hoewel dit minder belangrik vir die punteleer is, behoort die voorhande synde wedstryde tussen Groter Knysna en United Stars en tussen Plett United en Perseverance ook baie mededingend te verloop.

♦ In die Suidstreek het Garden Route vir Black Dolphins Saterdag 52-8 en Universals vir Winter Roses (Mosselbaai) 50-6 afgeransel.

Hungry Lions het Black Warriors (Herbertsdale) 25-15 geklop; en Titans vir Shamrocks (Buisplaas) 20-0.

`n Klompie strawwe wedstryde lê komende Saterdag in dié streek voor, veral tussen tweede en derde geplaasde Universals en Garden Route; maar ook tussen Proteas (Ruiterbos) en Black Dolphins.

Black Warriors behoort vir Shamrocks te klop, en Titans vir Winter Roses, maar oorgerustheid was nog nooit `n goeie ding op die rugbyveld nie.

Opgesomde punteleer –

Kusstreek (Oos)

Young Roses 27, Excelciors 26, Knysna United 26, Black Lions 20, Groter Knysna 18, Super Stars 17, United Stars 16, Perseverance 8, Plett United 6, Pro Stars 1.

Kusstreek (Suid)

Hungry Lions 29, Garden Route 26, Universals 17, Black Warriors 16, Titans 15, Proteas 14, Black Dolphins 10, Shamrocks 6, Winter Roses 1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.