SWD-liga: Barbarians kan Progress gas gee

SWD Arende - logoProgress van George kan `n kwaai aanslag van Barbarians verwag wanneer dié twee spanne Saterdag in die Suidwestelike Distrikte se Premierliga kragte meet.

Die Mosselbaaiers se nederlaag verlede week teen Evergreens plaas hulle (darem ná slegs een wedstryd) tweede laaste op die punteleer. Dis `n plek waaraan hulle nie gewoond is nie, en hulle sal so gou moontlik daar wil wegkom.

Pacaltsdorp Evergreens, die bond se kampioen, behoort sy segetog voort te sit wanneer hy teen Blanco speel.

Die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU) se kragmeting teen Groot-Brakrivier behoort baie mededingend te verloop. Die studente, wat verlede jaar derde was, het dusver albei sy wedstryde verloor, maar dit was teen verlede jaar se finaliste, Evergreens en Progress. Groot-Brak het die topvier verlede jaar net-net misgeloop.

In die ander wedstryde Saterdag speel Silver Stars teen Swellendam, en Crusaders teen Bridgton. Geeneen kan verwag om maklik te wen nie.

Kusliga

♦ Met `n enkele ronde in die Kusliga afgehandel en die deure nog wawyd oop, beloof Saterdag se bepalings `n klompie strawwe wedstryde.

In die Suidstreek sal veral die wedstryd tussen Hungry Lions van Klein-Brakrivier (1ste) en Garden Route van Mosselbaai (3rde) die oog vang.

Dié tussen Proteas van Mosselbaai (4de) en Black Warriors van Herbertsdale (6de), tussen die Mosselbaaise spanne Shamrocks (9de) en Winter Roses (7de), en tussen Black Dolphins (8ste) en Titans van Mosselbaai (5de) is almal vroeë waterskeidings.

Dieselfde geld vir die Oosstreek, maar die teenstanders is in die meeste gevalle nie so na aan mekaar op die punteleer nie.

Die uitsondering is die kragmeting tussen Black Lions van George (3de) en United Stars (2de) en dit sal waarskynlik die stafste rugby oplewer.

In die ander wedstryde speel Excelsior van Plettenbergbaai (5de) teen die voorloper, Young Roses van George; Knysna United (7de) teen Super Stars van George (4de); Perseverance (8ste) teen Groter-Knysna (6de); Plett United (9de) teen Pro Stars van Pacaltsdorp (10de).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.