SWD-liga: Barbarians veg sy pad boontoe

Barbarians mosselbaai - logoBarbarians van Mosselbaai is besig om sy pad boontoe te veg in die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Premierliga.

Hy het die Neslon Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU) se Saasveldkampus Woensdag in die D’Almeidastadion op Mosselbaai 30-13 geklop. Sy tweede span het 39-14 gewen en die derde 53-0.

Die studente, wat verlede jaar derde op die SWD-punteleer geëindig het, het die onbenydenswaardige taak gehad om in minder as vier weke teen al vier die ander van die topvyf spanne te speel. Hulle het elke keer slae gekry.

♦ Edward Maart, die sekretaris van Barbarians, berig dat José Petersen (regtervleuel), Curshwon Mono (linkervleuel) en Wilbur January (losskakel) elk `n drie vir die wenspan gedruk het.

January het 20 punte ingesamel deur al die drieë te verdoel en met drie strafskoppe te slaag.

Petersen is as die speler van die wedstryd aangewys.

♦ Vir die tweede span het Jonathan Otto (heelagter) en Logan Hendricks (regtervleuel) elk twee drieë gedruk, en Dillon Afrika (agsteman en die speler van die wedstryd), Vivian Groenewald (plaasvervanger-vaskopstut) en Hagen Fillies (plaasvervanger- skrumskakel) elk een.

Macdilen Saayman (losskakel) het met slegs twee doelskoppe geslaag.

♦ Die linkervleuel, Luwellyn Adams, het drie van die derdespan se nege drieë gedruk om as die speler van die wedstryd bekroon te word. Die res is deur Leolan Mondoe (heelagter), Emile Moolman (agsteman), Luwayne Fortuin( flank), Winston Karelse (flank), Shaun London (plaasvervanger-regtervleuel) en Conrad Koen (plaasvervanger-losskakel) gedruk.

Mondoe het ook met twee doelskoppe en Brushane Olkers (binnesenter) en Koen met een elk geslaag.

Kollig op Rosemore

♦ Wat die komende Saterdag se wedstryde betref, sal die wedstryd tussen Progress en Blanco United op Rosemore veral met groot belangstelling gevolg word nadat Blanco die Premierliga-kampioen, Evergreens, die afgelope Saterdag hard vir `n naelskraapse sege van 24-23 laat werk het. As hy dieselfde peil kan handhaaf, wag daar dalk nog `n verrassing.

Crusaders, wat tans derde op die punteleer is, durf die titelhouer en voorloper op Pacaltsdorp aan en die wedstryd sal `n aanduiding gee van Crusaders se werklike krag vanjaar.

Groot-Brakrivier het verlede week verras deur die NMMU te klop, maar kan nie bekostig om die nuweling in die reeks, Swellendam, te onderskat nie – juis omdat hy nog na sy eerste ligapunt op soek is. Hulle speel op Groot-Brak.

Opgesomde punteleer –

Evergreens 15, Barbarians 9, Crusaders 8, Groot-Brakrivier 8, Silver Stars 7, Blanco 5, Progress 4, Bridgton 3, NMMU 2, Swellendam 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.