Blanco United het Saterdag nog `n grote in die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Premierliga deeglik skrikgemaak.
Hy het 28-28 (rustyd 3-3) gelykop gespeel teen verlede jaar se naaswenner, Progress, nadat die kampioen, Evergreens, die vorige week moes spook om hom 24-23 te klop.
In nog `n wedstryd Saterdag het Groot-Brakrivier vir Swellendam 39-14 geklop. Die wenspan het ses drieë teen twee gedruk.
♦ Progress en Blanco het elk drie drieë gedruk.
Elroy van Rooyen van Progress sê die span het as gevolg van beserings `n voorryprobleem gehad. Hoewel hy hom goed van sy taak teen Blanco se gedugte voorry gewyt het, het hy anders as sy teenstander nie plaasvervangers gehad nie. Hy (Van Rooyen) meen egter Progress kon steeds die wedstryd gewen het.
Van Rooyen sê die span van George het baie hanteerfoute gemaak en soms swak besluite geneem. Boonop het sy dekverdediging hom in die steek gelaat en Blanco se drieë baie maklik laat lyk.
Voorlangs het Laurenzo Levack (flank) en Wendell Pondo (agsteman) asook die voorry Thansanga Jantjies (loskopstut), Alvin George (vaskopstut) en Fabian Joseph (haker) vir Progress uitgeblink.
In die agterlyn het Fizel Fredricks (heelagter) en Werner Jacobs (binnesenter) die oog gevang.
Fredericks het twee drieë gedruk en die plaasvervanger Curwin Appollis een. Die losskakel, Jade Roelfse, het 13 punte met twee doelskoppe en drie strafdoele behaal.