SWD-liga: bloedsweet wag op voorste spanne

SWD Arende - logoDis bloedsweet Saterdag vir die voorste spanne in die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Premierliga.

Boaan die lys is die kragmeting in die D’Almeidastasion in Mosselbaai tussen die tuisspan, Barbarians, en Groot-Brakrivier. Albei spanne het dusver twee uit hul drie wedstryde gewen, maar die besoekers het ook een gelykop gespeel en saam met twee bonuspunte meer plaas dit hulle in die tweede plek op die punteleer.

Die wedstryd tussen Crusaders en Progress op Parkdene sal waarskynlik eweneens `n gekners van tande afgee. Progress was verlede jaar in die halfeindronde en is gewis nie gediend met die lae plek wat hy tans beklee nie.

Dis ook die geval met die wedstryd tussen Blanco en die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU) se Saasveldkampus. Die studente was ook in die halfeindstryd en is tans tweede laaste nadat hulle eerste teen die sterkste spanne moes speel. Hulle kan eenvoudig nie bekostig om weer te verloor nie, terwyl Blanco deesdae met baie selfvertroue speel.

Die onoorwonne kampioen, Evergreens van Pacaltsdorp, behoort Silver Stars te klop, maar kan nie bekostig om op sy louere te rus nie.

Bridgton moet ook op sy hoede wees teen Swellendam wat nog sy eerste sege in die reeks jag.

♦ Die eerste wedstryde in die Presidentsliga vind ook Saterdag plaas.

Opgesomde punteleer –

Evergreens 19, Groot-Brakrivier 13, Barbarians 9, Crusaders 9, Silver Stars 7, Blanco 7, Progress 6, Bridgton 3, NMMU 2, Swellendam 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.