SWD-liga: Die Vonk van Brak pure vlamme

Die Vonk van Brak was toe Saterdag sommer pure vlamme in Groot-Brakrivier se wedstryd in die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Premierliga teen Crusaders op Greenhavenpark, Groot-Brakrivier.

Imran Wesso, die woordvoerder van die tuisspan, laat weet Henn-lin Botha, die losskakel van Brak, het dit tot laat in die wedstryd gelos om te wys waarom hy aldus herdoop is, toe hy ʼn gaping gevat en 40 meter ver genael het om ʼn tuissege te bewerkstellig.

Sy span het die kragmeting met 24-20 gewen.

Wesso sê Crusaders het in die eerste helfte twee vinnige drieë gedruk om ná 20 minute met 14-0 voor te loop.

“Crusaders het die wind van agter baie goed gebruik om Brak in sy eie helfte vas te pen.

“Toe Brak se vleuel Hyron Erasmus egter die bal in Crusaders se kwartgebied ontvang, nadat sy span twee fases van ʼn lynstaan af opgebou het, het hy dié stukkie spel met ʼn drie afgerond.

“Die besoekers het die voorsprong met ’n strafdoel kort voor rustyd tot 17-5 gerek, en die spanne het met dié telling gaan rus.”

Wesso sê die ster-flank Cheslyn Gelderbloem het sake met die aanvang van die tweede helfte beter laat lyk deur op sy eentjie ʼn drie te gaan druk nadat die bal veldaf geskop is.

“Die wind was nou aan die die Brakke se kant.

“Goeie opvolgwerk deur die vleuel Ruben Loxton en binnesenter Ashwin Meyer het die besoekende heelagter in sy eie kwartgebied betrap, en die bal is by hom afgeneem. Gelderbloem het dit ontvang en vir die Brakke se tweede van vier drieë oorgeduik. Botha het dit verdoel om die agterstand tot 12-17 te laat krimp.”

Crusaders het die telling met ʼn strafdoel na 20-12 toe gerek. Botha het ʼn drie in die linkerhoek gedruk, en die Brakke was net 17-20 agter.

Wesso vertel verder:

“Waarop almal gewag het, het toe met vyf minute se speeltyd oor gebeur.

“Botha het die bal 40 meter van die teenstander se doellyn af ontvang, met sy regtervoet afgetrap en tussen twee verdedigers deur gebars. Hy moes uithaal om die dekverdediging te ontwyk, maar slaag toe goed daarin om ʼn pragdrie te druk, wat hy self verdoel het.”

Die beriggewer sê Crusaders het geweier om te gaan lê, en verskeie fases met die bal in die hand afgedwing om Brak se verdediging te beproef.

“Die Brakke se verdediging was by tye in die eerste helfte skokkend, maar in die laaste paar minute van die wedstryd het hulle regtig hul staal getoon.”

Groot-Brakrivier II het met 21-7 gewen en die derde span met 12-16.

Hugh Minnies, Arden-Lee Meyer en Branville Abrahams het die tweede span se drieë gedruk, Clinton Pietersen en Meyer het vir die doelskoppe gesorg.

Vir die derde span het Jeromique Wesso en Winrich Kennedy gedruk, en Reduaan Botha met ’n doelskop geslaag.

Ander uitslae –

Progress 27, Barbarians 16; Evergreens 8, Silver Stars 8; Bridgton 76, NMMU 21; Blanco12, Maori’s 12.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.