SWD-liga: goeie begin vir kampioen Evergreens

evergreens-logoDie Suidwestelike Distrikte (SWD) se kampioen, Pacaltsdorp Evergreens, het die seisoen goed afgeskop met `n oortuigende sege oor die span wat verlede jaar derde was.

Hy het die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU) se Madibaz 39-22 in die Premierliga geklop.

`n Woordvoerder van Evergreens, sê die span het sommer in die eerste minuut al `n pragdrie deur Marshall Potts (vleuel) gedruk gekry.

“Die vaste fassette het baie gelykop verloop, maar in die losspel het Evergreens die botoon gevoer.

“Met Freginald Africa (flank) aan die spits, het Evergreens telkemale omgekeerde besit bewerkstellig om teenaanvalle van stapel te laat loop. Hy is voorlangs goed bygestaan deur Anvor Prins (stut) en PJ le Roux (slot).

“Aiden Wesso, die ander flank van Evergreens, het goed geskakel tussen voor- en agterspelers en is met `n pragdrie beloon. Hy was telkens daar om belowende bewegings verder te voer.

“Agterlangs was Leeroy Pojee (losskakel) skitterend op die aanval. Divandre Stydom (senter) was ook kookwater in die middelveld en het keer op keer NMMU se verdediging laat bontstaan,” lui sy verslag.
Behalwe Potts het Gershwin Muller, Wesso, Marvin November en Rudi Micheals drieë vir die kampioen gedruk.

C-Than Moos het vier doelskoppe en twee strafdoele vir `n eie bydrae van 14 punte behaal.

♦ Die ander geskeduleerde bepaling tussen Silver Stars (George) en Bridgton (Oudtshoorn) is tot 21 Mei uitgestel nadat die bespreekte veld na berig word deur `n kriekethalfeindstryd “gekaap” is en `n vriendskaplike wedstryd voorkeur op `n alternatiewe veld gekry het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.