SWD-liga: groentjie vat semifinalis vas

evergreens-logoDie groentjie in die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Premierliga, Swellendam, het Saterdag een van die spanne in verlede jaar se halfeindronde behoorlik vasgevat.

Hy het 20-20 gelykop gespeel teen die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU) se Saasveld-kampus.

In die ander wedstryde het die kampioen en Goue Bekerspan, Evergreens van Pacaltsdorp, 38-14 teen die tweede geplaaste Groot-Brakrivier gewen; verlede jaar se naaswenner, Progress van George, het Bridgton van Oudtshoorn 39-17 geklop; en Barbarians van Mosselbaai het Silver Stars van George 29-13 geklop.

Die wedstryd tussen Blanco en Crusaders het nie plaasgevird nie.

♦ `n Woordvoerder van Evergreens sê dit was `n goeie spanpoging waarmee Groot-Brak geklop is.

“Die voor- en agterspelers het goed saamgewerk om die wedstryd totaal en al te oorheers.”
Hy sê die flank Arden (Raffi) Wesso was aan Evergreens se kant die beste speler op die veld.

“Hy het op die aanval en verdediging geskitter en is goed bygestaan deur Anvor Prins (loskopstut) en Freginald Africa (flank). Prins is beloon met `n skitterdrie waar hy soos `n wafferse vleuel langs die kantlyn af genael het.

groot-brakrivier“Agterlangs het die heelagter Luzane Williams stewig vertoon en eweneens `n skitterende drie gedruk.”

Prins, Wesso, Xavier Scholtz, Williams, Gershwin Muller en George-win Fredricks het Evergreens se drieë gedruk. Leegan Moos het vier verdoel.

♦ Demi Rhoode, die wedstrydsekretaris van Groot-Brakrivier, sê Evergreens het die tuisspan `n rugbyles geleer.

“Groot-Brak is in alle afdelings oortuigend deur `n goedafgerigte span geklop.”

Hy belowe egter dat Groot-Brak sal terugkeer.

Evergreens se tweede span het 12-10 en die derde span 5-0 gewen.

♦ Edward Maart, die sekretaris van Barbarians, sê Morné Kannemeyer is as die speler van die wedstryd teen Silver Stars aangewys.

Jerome Fillies (regtervleuel) en Curshwon Mono (linkervleuel, twee) het Barbarians se drieë gedruk. Wilbur January (heelagter) het met `n doelskop en vier strafdoele geslaag.

Barbarians mosselbaai - logoBarbarians se tweede span het Silver Stars 17-3 geklop en die derde span het 41-10 gewen.

Vivian Groenewald (slot) is as die speler van die tweedespanwedstryd aangewys.

Justin Bhana (linkervleuel), Gary Olckers (plaasvervanger-loskopstut) en Addington Mondo (plaasvervanger-linkervleuel) het elk `n drie gedruk en Macdilen Saayman (losskakel) het een verdoel.

In die derde span is Leeroy Muller (linkervleuel) as die speler van die wedstryd aangewys.

Die drieë is deur Leolan Mondoe (heelagter), Muller, Sachin Canham (agsteman), Taguin Meyer (slot), Ferdi Olivier (plaasvervanger-skrumskakel) en Changlyn van Zyl (regtervleuel, twee) gedruk. Mondoe het een, en Dillon Williams (plaasvervanger-heelagter) twee verdoel.

Presidentsliga (Kus)

♦ Jacoline Muller, die voorsitter van die Maori’s (George), wat 74-0 teen Eagle Stars (Sedgefield) gewen het, skryf die span se sukses aan goeie kommunikasie en dissipline toe.

Karooliga

♦ Andries Plaatjies, die sekretaris van Young Leaves (Waboomskraal), laat weet dat dié klub Saterdag sy stem behoorlik dik gemaak het deur 17-17 gelykop te speel teen die voorloper in die Karooliga, Swings van Haarlem, op dié se tuisveld.

“Young Leaves moes in die eerste helfte met baie min balbesit tevrede wees en slegs goeie verdediging het Swings van die doellyn af weggehou.

“Swings kon `n drie druk en Young Leaves se heelagter, Mario Jacobs, was in die kol met ʼn strafdoel (rustyd 5-3).

“Ná rustyd het Young Leaves teruggeslaan. Die losvoorspeler Shaun Moos het `n kragdrie onder die pale gedruk nadat voor- en agterspelers die bal voortreflik hanteer het. Jacobs het dit verdoel en die span van Waboomskraal se sterte was in die lug,” vertel Plaatjies.

Young Leaves“Swings het op sy beurt teruggeslaan met twee vinnige drieë en met vyf minute oor was hy skielik 17-10 voor.”

Plaatjies sê Young Leaves se afrigter, Brandon Titus, moes vinnig twee tegniese veranderings maak en die flank André Stander is onder andere opgestuur in die plek van Samuel Liebenberg.

“Young Leaves het tot elke prys balbesit behou en in beseringstyd het die vleuel Winston Niemand deur `n gaping in die middelveld gesny en`n pragtige aangee na die heelagter Jacobs het die skare op hul voete gehad. Jacobs het sy man geklop en net langs die pale gaan druk en sommer self verdoel (17-17).”

Die afrigter het die hele agttal as uitblinkers uitgesonder. Agterlangs was die kaptein, Jacobus Abrahams, rotsvas op die verdediging, terwyl Jacobs en Niemand telkemaal die verdedigers in die lug laat gryp het.

Kusliga (Oos)

♦ Andries Jacobs, die sekretaris van Dysselsdorp Rangers, het

laat weet Kango United (Oudtshoorn), teen wie hy Saterdag moes speel, het aan die reeks onttrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.